Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 22:19-31 Bybel vir Almal (ABA)

19. “Julle moet iemand doodmaak wat seks het met ’n dier.

20. “Julle moet iemand doodmaak wat offers bring vir ’n ander god. Julle mag net vir die Here offer.”

21. “Julle mag nie slegte dinge doen aan ’n vreemdeling nie. Julle mag hom nie laat swaarkry nie. Julle moet onthou julle was ook vreemdelinge in Egipte.

22. Julle mag nie slegte dinge doen aan ’n weduwee of weeskind nie.

23. As julle dit doen, en hulle vra My om hulle te help, dan sal Ek na hulle luister.

24. Ek sal baie kwaad word en Ek sal julle doodmaak. Dan sal júlle vroue weduwees word en júlle kinders sal weeskinders word.”

25. “Wanneer julle geld leen vir arm mense by julle, dan moet julle nie wees soos die mense wat gewoonlik vir ander mense geld leen nie. Julle moenie die arm mense ook rente laat betaal nie.

26. Wanneer julle ’n ander man se klere vat omdat hy nie geld het om te betaal nie, dan moet julle dit vir hom teruggee wanneer die son ondergaan,

27. want hy moet hom daarmee toemaak. Dit is sy klere, hy moet daarin slaap. As hy My vra om hom te help, dan sal Ek luister, want Ek is jammer vir hom.”

28. “Julle mag nie vir God of ’n leier van julle volk vervloek nie.”

29. “Julle moenie al die koring wat julle afsny en die wyn wat julle maak, vir julleself hou nie. Julle moet julle oudste seuns vir My gee.

30. Julle moet ook die oudste bul-kalwers en die oudste ram-lammers vir My gee. Die kalf of lam moet sewe dae by sy ma bly, en op die agste dag moet julle hom vir My gee.

31. Julle moet gewyde mense vir My wees. Wanneer ’n wilde dier ’n mak dier doodgebyt het, dan mag julle nie die dooie dier se vleis eet nie. Julle moet daardie vleis vir die honde gooi.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 22