Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:24-36 Bybel vir Almal (ABA)

24. Julle moet dieselfde aan die man doen wat hy aan die vrou gedoen het: sy oog vir ’n oog, sy tand vir ’n tand, sy hand vir ’n hand, sy voet vir ’n voet,

25. ’n brandplek vir ’n brandplek, ’n seerplek vir ’n seerplek, ’n kneusplek vir ’n kneusplek.

26. “Wanneer iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan, en die oog word blind, dan moet hy die slaaf vry laat weggaan om te betaal vir sy oog.

27. En wanneer hy sy slaaf of slavin se tand uitslaan, dan moet hy hom vry laat weggaan om te betaal vir sy tand.”

28. “Wanneer ’n bees ’n man of ’n vrou doodstoot, dan moet julle die bees doodgooi met klippe, en julle mag nie sy vleis eet nie. Die bees se eienaar is onskuldig.

29. Miskien het die bees al voorheen mense gestoot, en julle het sy eienaar gewaarsku, maar hy pas nie die bees op nie. As die bees dan ’n man of ’n vrou doodmaak, dan moet julle die bees doodgooi met klippe. Julle moet ook sy eienaar doodmaak.

30. As julle besluit dat die eienaar net ’n boete moet betaal, dan moet hy die boete betaal wat julle sê. Dan mag hy lewe.

31. As die bees ’n seun of ’n dogter doodstoot, dan moet julle die eienaar ook so straf.

32. As die bees ’n slaaf of slavin doodstoot, dan moet die bees se eienaar 30 stukke silwer betaal aan die slaaf se eienaar. Julle moet ook die bees doodgooi met klippe.”

33. “Partymaal maak iemand ’n put oop, of hy grawe ’n put en hy maak dit nie toe nie. Wanneer ’n bees of ’n donkie daarin val,

34. dan moet die man wat die put gegrawe het, betaal. Hy moet die geld vir die eienaar van die dier gee en hy mag dan die dooie dier neem.”

35. “Wanneer iemand se bees ’n ander man se bees doodstoot, dan moet julle die lewendige bees verkoop en die geld verdeel tussen die twee eienaars. Julle moet ook die dooie bees se vleis verdeel.

36. As die bees al voorheen met ander beeste baklei het, en sy eienaar het hom nie opgepas nie, dan moet die eienaar ’n ander bees gee. Hy mag dan die dooie bees neem.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21