Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 20:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. God het gesê:

2. “Ek is jou God die Here. Ek het jou uit Egipte gebring, uit die plek waar jy ’n slaaf was.

3. “Jy mag nie ander gode aanbid nie. Ek is die enigste God.

4-5. “Jy mag nie vir jou ’n beeld maak en voor hom buig en hom dien nie, nie ’n beeld wat lyk soos iets bo in die hemel of soos iets onder op die aarde of soos iets in die water onder die aarde nie. Ek is jou God die Here, jy moet net vir My dien. Ek straf die kinders as die pa sonde gedoen het. Ek straf ook sy kleinkinders en agterkleinkinders as hy My haat en ongehoorsaam is aan My.

6. Maar as iemand lief is vir My en as hy gehoorsaam is aan My, dan sal Ek goed wees vir hom en vir sy kinders, 1 000 geslagte lank.

7. “Jy mag die Naam van jou God die Here nie gebruik vir iets wat verkeerd is nie, want die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik vir iets wat verkeerd is.

8. “Jy moet onthou die sewende dag is ’n gewyde dag.

9. Jy moet ses dae lank werk en alles doen wat jy moet doen.

10. Maar die sewende dag is die Sabbatdag van jou God die Here. Dan mag jy niks werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter, of jou slaaf of slavin, of jou diere of die vreemdelinge wat by jou woon nie.

11. Die Here het ses dae lank die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy nie gewerk nie. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en Hy het dit ’n gewyde dag gemaak.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 20