Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 16:25-36 Bybel vir Almal (ABA)

25. Moses het gesê: “Julle moet dit vandag eet, want vandag is die Sabbatdag vir die Here. Julle sal nie vandag kos in die veld kry nie.

26. Julle moet ses dae lank elke dag manna optel, maar die sewende dag is die Sabbatdag. Dan sal daar nie manna wees nie.”

27. Op die sewende dag het party van die mense gegaan om manna op te tel, maar hulle het niks gekry nie.

28. Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal julle nog ongehoorsaam wees en nie doen wat Ek sê nie?

29. Onthou, Ek het vir julle die Sabbatdag gegee. Daarom gee Ek vir julle op die sesde dag genoeg kos vir twee dae. Elkeen moet op die sewende dag bly waar hy is. Niemand mag dan weggaan van sy woonplek nie.”

30. Die Israeliete het toe op die sewende dag niks gedoen nie.

31. Die Israeliete het die kos “manna” genoem. Die manna was wit en dit het gelyk soos koljander-saad. Dit het gesmaak soos heuningkoek.

32. Moses het ook vir hulle gesê wat die Here nog gesê het: “Julle moet ’n omer manna bêre vir julle nageslag sodat hulle die kos kan sien wat Ek vir julle in die woestyn gegee het toe Ek julle uit Egipte gebring het.”

33. Moses het toe vir Aäron gesê: “Neem ’n kruik en sit ’n omer manna daarin. Sit dit dan neer voor die Here en bêre dit vir julle nageslag.”

34. Aäron het dit neergesit voor die kis waarin die tien gebooie moet kom. Hy het dit gebêre soos die Here vir Moses gesê het.

35. Die Israeliete het 40 jaar lank manna geëet, totdat hulle by die land gekom het waar hulle kon woon. Hulle het manna geëet totdat hulle by Kanaän gekom het.

36. ’n Omer is een tiende van ’n efa.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 16