Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 14:6-20 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die farao het toe die perde voor sy oorlogkar ingespan en hy het sy soldate saam met hom geneem.

7. Hy het 600 goeie oorlogkarre geneem, al die oorlogkarre van Egipte. Daar was drie manne op elke oorlogkar.

8. Die Here het die farao, die koning van Egipte, hardkoppig gemaak. Hy het die Israeliete gevolg en gejaag, maar die Here het die Israeliete beskerm toe hulle weggegaan het.

9. Die Egiptenaars het die Israeliete gevolg en gejaag. Die manne op die farao se oorlogkarre en sy soldate het tot by die Israeliete gekom. Die Israeliete se kamp was by die see, by Pi-Hagirot naby Baäl-Sefon.

10. Toe die farao nader kom, het die Israeliete gesien dat die Egiptenaars hulle volg en jaag, en hulle het baie bang geword. Hulle het tot die Here gebid en hulle het Hom gevra om hulle te help.

11. Maar vir Móses het hulle gesê: “Daar was baie plek in Egipte waar die mense ons kon begrawe. Hoekom het jy ons daar weggevat om in die woestyn dood te gaan? Wat het jy aan ons gedoen? Hoekom het jy ons uit Egipte gebring?

12. Ons het vir jou in Egipte gesê jy moet ons los sodat ons die Egiptenaars se slawe kan wees. Dit is vir ons beter om hulle slawe te wees, beter as om in die woestyn dood te gaan.”

13. Maar Moses het vir die Israeliete gesê: “Moenie bang wees nie. Bly waar julle is. Julle sal vandag sien dat die Here julle sal red. Julle sien vandag die Egiptenaars, maar julle sal hulle nooit weer sien nie.

14. Die Here sal self oorlog maak en Hy sal vir julle veg teen die Egiptenaars. Julle moet stil wees.”

15. Die Here het vir Moses gesê: “Hoekom bid jy tot My en vra dat Ek julle moet help? Sê vir die Israeliete hulle moet aanhou loop.

16. En jy, tel jou kierie op en hou jou hand oor die see. Dan sal daar ’n pad deur die see wees sodat die Israeliete op die grond deur die see kan gaan.

17. Ek sal die Egiptenaars hardkoppig maak. Hulle sal julle deur die see volg. Dan sal Ek wys dat Ek die God is wat kan doen wat Ek wil doen met die farao en al sy soldate en met sy oorlogkarre en die manne daarop.

18. Wanneer Ek dit doen, dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is.”

19. Die Engel van die Here was altyd voor die Israeliete, maar Hy het nou agter hulle gaan staan.

20. Die wolk was toe tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Die wolk was donker by die Egiptenaars maar by die Israeliete het die wolk in die nag lig gegee. Die Egiptenaars en die Israeliete kon daardie nag nie naby mekaar kom nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 14