Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:8-22 Bybel vir Almal (ABA)

8. Julle moet die vleis daardie aand braai en eet, en julle moet ongesuurde brood en bitter kruie eet.

9. Julle moenie die vleis rou eet of in water kook nie. Julle moet dit oor die vuur braai, die kop saam met die pootjies en die binnegoed.

10. Julle moenie die vleis tot die volgende dag hou nie. As daar van die vleis oorbly tot die volgende dag, dan moet julle dit verbrand.

11. “ ‘Julle moet gereedmaak sodat julle dadelik kan gaan. Elkeen moet sy klere aantrek en hy moet dit vasmaak met ’n belt. Julle moet julle skoene aantrek en julle kieries in die hand hou. Dan moet julle baie vinnig eet. Dit is die Here se Paasfees.

12. “ ‘Ek sal vannag deur Egipte gaan en Ek sal die oudste seun van elke huisgesin in Egipte doodmaak, ook die eerste manlike kleintjies van al die diere, en Ek sal al die gode van Egipte straf. Ek is die Here!

13. Die bloed aan die deure se rame sal ’n teken wees dat julle in daardie huise is. As Ek die bloed sien, dan sal Ek by julle huise verbygaan, en Ek sal julle nie straf wanneer Ek die Egiptenaars straf nie.

14. Julle moet hierdie dag altyd onthou. Julle moet dan ’n fees vier om My te eer. Julle nageslag moet ook elke jaar hierdie fees vier.’ ”

15. “ ‘Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle al die suurdeeg uit julle huise wegneem. As iemand van die eerste dag af tot die sewende dag suurdeeg eet, dan moet julle hom afsny van die volk.

16. Die eerste en die sewende dag moet gewyde dae wees vir julle. Op hierdie dae mag niemand werk nie. Julle mag net kos maak, net die kos wat julle moet eet.

17. Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brood vier, want op hierdie dag het Ek julle uit Egipte gebring. Julle en julle nageslag moet hierdie fees elke jaar vier.

18. Julle moet die fees in die eerste maand vier. Julle moet ongesuurde brood eet van die aand van die 14de dag tot die aand van die 21ste dag.

19. Sewe dae lank mag daar nie suurdeeg in julle huise wees nie. As iemand brood of iets anders eet wat suurdeeg in het, dan moet julle hom afsny van die volk. Julle moet hom afsny as hy iemand is wat in die land gebore is, en ook as hy ’n vreemdeling is.

20. Julle mag nie brood eet wat suurdeeg in het nie. Julle moet ongesuurde brood eet in al julle huise.’ ”

21. Moses het al die leiers van die Israeliete geroep en hy het vir hulle gesê: “Elkeen moet vir sy huisgesin ’n skaap of ’n bok gaan vang en hy moet dit vir die Paasfees slag.

22. Dan moet julle elkeen ’n bossie hisop neem, dit in die bloed druk en die bloed smeer aan sy deur se raam. Niemand mag uit sy huis gaan voor die volgende oggend nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12