Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het in Egipte vir Moses en Aäron gesê:

2. “Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand, dit moet van nou af die eerste maand van die jaar wees.

3. Sê vir al die Israeliete: ‘Op die tiende dag van hierdie maand moet die hoof van elke huisgesin ’n skaap of ’n bok neem, een skaap of bok vir ’n huisgesin.

4. As die huisgesin klein is en hulle kan nie ’n hele skaap of bok op-eet nie, dan moet die man en sy naaste buurman saam ’n skaap of ’n bok neem. Julle moet tel hoeveel mense in die huisgesin is, en daar moet genoeg vleis wees sodat almal kan eet.

5. Die skaap of bok moet gesond wees. Daar moet niks verkeerd wees met hom nie, en dit moet ’n ram wees wat een jaar oud is. Julle mag ’n skaap of ’n bok neem.

6. Julle moet hom oppas tot die 14de dag van die maand en dan moet julle hom slag wanneer dit aand word. Al die Israeliete moet dit doen.

7. Julle moet die bloed van hierdie dier neem en julle moet dit aan die deur se raam smeer. Julle moet dit doen in elke huis waar julle die lam eet.

8. Julle moet die vleis daardie aand braai en eet, en julle moet ongesuurde brood en bitter kruie eet.

9. Julle moenie die vleis rou eet of in water kook nie. Julle moet dit oor die vuur braai, die kop saam met die pootjies en die binnegoed.

10. Julle moenie die vleis tot die volgende dag hou nie. As daar van die vleis oorbly tot die volgende dag, dan moet julle dit verbrand.

11. “ ‘Julle moet gereedmaak sodat julle dadelik kan gaan. Elkeen moet sy klere aantrek en hy moet dit vasmaak met ’n belt. Julle moet julle skoene aantrek en julle kieries in die hand hou. Dan moet julle baie vinnig eet. Dit is die Here se Paasfees.

12. “ ‘Ek sal vannag deur Egipte gaan en Ek sal die oudste seun van elke huisgesin in Egipte doodmaak, ook die eerste manlike kleintjies van al die diere, en Ek sal al die gode van Egipte straf. Ek is die Here!

13. Die bloed aan die deure se rame sal ’n teken wees dat julle in daardie huise is. As Ek die bloed sien, dan sal Ek by julle huise verbygaan, en Ek sal julle nie straf wanneer Ek die Egiptenaars straf nie.

14. Julle moet hierdie dag altyd onthou. Julle moet dan ’n fees vier om My te eer. Julle nageslag moet ook elke jaar hierdie fees vier.’ ”

15. “ ‘Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle al die suurdeeg uit julle huise wegneem. As iemand van die eerste dag af tot die sewende dag suurdeeg eet, dan moet julle hom afsny van die volk.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12