Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 7:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het gesê: “Julle God die Here sal julle bring na die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat. Hy sal baie volke wegjaag om plek te maak vir julle, sewe volke wat meer is as julle en wat sterker is. Dit is die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

2. Julle God die Here sal daardie volke oorwin en vir julle gee. Julle moet hulle dan almal doodmaak. Julle moenie ’n ooreenkoms maak met hulle en jammer wees vir hulle nie.

3. Julle moet ook nie met hulle trou nie. Julle moenie julle dogters vir hulle seuns gee en hulle dogters vir julle seuns neem om te trou nie.

4. As julle dit doen, dan sal julle kinders ophou om die Here te dien en hulle sal ander gode dien. En dan sal die Here kwaad word vir julle en Hy sal julle almal vinnig laat sterf.

5. Maar wat julle moet doen, is dít: Julle moet hulle altare afbreek, julle moet hulle klip-pale stukkend breek, hulle gewyde pale afkap en hulle beelde verbrand.

6. Hoekom? Julle moet dit doen omdat julle die gewyde volk van julle God die Here is. Dit is vir júlle wat julle God die Here gekies het uit die al die volke op die aarde, Hy het júlle gekies om sy eie volk te wees.

7. Die Here het lief geword vir julle en Hy het julle gekies, nie omdat julle ’n groter volk as ander volke was nie, julle was kleiner as al die ander volke.

8. Nee, die Here het julle gekies omdat Hy lief was vir julle en omdat Hy wou doen wat Hy vir julle voorvaders belowe het. Dit is hoekom die Here julle met sy groot krag gebring het uit die land waar julle slawe was, Hy het julle losgekoop van die farao, die koning van Egipte.

9. Daarom moet julle onthou dat julle God die Here die enigste God is. Hy is die God wat doen wat Hy belowe, die God wat sal doen wat Hy in sy verbond belowe het. Hy sal dit doen vir die mense wat lief is vir Hom en wat doen wat sy gebooie sê, Hy sal dit 1 000 geslagte lank doen.

10. Maar Hy sal al die mense straf en laat sterf wat nie lief is vir Hom nie, Hy sal nie vergeet nie, Hy sal hulle straf.

11. Daarom moet julle doen wat die wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee.

12. As julle gehoorsaam is aan hierdie wette en doen wat die wette sê, dan sal julle God die Here doen wat Hy in sy verbond belowe het vir julle voorvaders.

13. Hy sal lief wees vir julle en Hy sal julle seën. Hy sal julle baie laat word, julle sal baie kinders kry. Hy sal vir julle groot koring-oeste, baie wyn en olyf-olie gee, en ook baie kalwers en baie lammers. Hy sal dit alles vir julle doen in die land wat Hy vir julle voorvaders belowe het om vir julle te gee.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 7