Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 3:5-14 Bybel vir Almal (ABA)

5. Al daardie stede het sterk en hoë mure gehad, en daar was sterk deure en sluitbalke in die poorte. Ons het ook baie dorpies gevat.

6. Ons het al die mense in die stede en dorpies doodgemaak, al die mans, vroue en kinders, soos ons ook gedoen het met die mense van koning Sihon van Gesbon.

7. Maar ons het die beeste en die goed in die stede vir onsself gevat.”

8. “So het ons daardie tyd die land gevat van die twee Amoriete-konings anderkant die Jordaan-rivier, van die Arnon-vallei tot by Hermon-berg.

9. Die Sidoniërs noem Hermon-berg ‘Sirjon-berg,’ en die Amoriete noem dit ‘Senir-berg.’

10. Ons het al die stede gevat wat op die Hoëveld was, en die hele land Gilead en die hele land Basan, tot by die stede Salka en Edreï. Dit was twee stede in die land Basan van koning Og.

11. Koning Og van Basan was die enigste Refaïet wat nog gelewe het. ’n Mens kan sy bed nog sien in die stad Rabba van die Ammoniete. Dit is ’n ysterbed, dit is nege el lank en vier el breed.

12. “Ek het ’n stuk van die land wat ons in daardie tyd gevat het, vir die Ruben-stam en die Gad-stam gegee. Dit was die stuk land tussen die stad Aroër langs die Arnon-vallei tot by die helfte van die Gilead-berge en die stede daarin.

13. Die ander helfte van die Gilead-berge en die hele land Basan het ek gegee vir die halwe Manasse-stam. Basan was voorheen die land van Og. Dit was die hele land Argob, die hele stuk land van Basan wat hulle altyd Refaïete-land genoem het.

14. Jaïr seun van Manasse het die hele land Argob gevat tot by die grens van die lande Gesur en Maäka. Hy het die naam van die land Basan verander, hy het sy eie naam vir die land gegee, en hy het dit die Jaïr-kampe genoem. Dit is nou nog die naam.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 3