Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:31-42 Bybel vir Almal (ABA)

31. Jy sal sien dat iemand jou bees slag en jy sal nie van die vleis eet nie. Jy sal sien dat iemand jou donkie vat en jy sal nie die donkie terugkry nie. Jou vyande sal jou skape en bokke vat, en niemand sal jou help nie.

32. Jy sal sien dat ander mense jou kinders vat, jy sal elke dag na hulle verlang, maar jy sal niks kan doen nie.

33. Mense wat jy nie ken nie, sal alles eet wat jy geplant het en wat jy oes, alles waarvoor jy gewerk het. Hulle sal aanhou om jou te laat swaarkry en om jou te verdruk.

34. Jy sal mal word van alles wat jy sien.

35. Die Here sal jou siek maak, jy sal lelike sere op jou knieë en op jou bene kry. Jy sal nie gesond word nie, van jou voete tot by jou kop.

36. Jy het ’n koning gekies en aangestel. Die Here sal jou en daardie koning stuur na ’n volk toe wat jy nie geken het nie, jy en jou voorvaders het hulle nie geken nie. En daar sal jy ander gode dien, gode van hout en klip.

37. Die Here sal jou na ander volke toe neem, en al daardie volke sal skrik wanneer hulle jou sien, hulle sal praat oor jou en hulle sal jou spot.

38. Jy sal baie saad na die land neem om te saai, maar jy sal min saad op die land bymekaarmaak wanneer jy die koring of die gars afsny, want die sprinkane sal alles opvreet.

39. Jy sal wingerde plant en jy sal in hulle werk, maar jy sal nie druiwetrosse afsny of wyn drink nie, want die wurms sal dit opvreet.

40. Jy sal olyfbome oral in jou land hê, maar jy sal nie olyf-olie hê om aan jou te smeer nie, want die olywe sal afval.

41. Jy sal kinders kry, maar hulle sal nie aan jou behoort nie, want vyande sal hulle vang en wegvat.

42. Die sprinkane sal al jou bome en alles verwoes wat op jou land groei.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28