Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 27:10-20 Bybel vir Almal (ABA)

10. Daarom moet julle gehoorsaam wees aan die Here en julle moet alles doen wat Hy gesê en besluit het, alles wat ek vandag vir julle sê.”

11. Moses het daardie dag vir die volk gesê:

12. “Wanneer julle oor die Jordaan-rivier gegaan het, dan moet party stamme op die Gerisim-berg gaan staan om die volk te seën. Hierdie stamme is: Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin.

13. En die ander stamme moet op die Ebal-berg gaan staan om mense te vervloek. Hierdie stamme is: Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali.

14. Die Leviete moet dan begin praat, hulle moet hard praat en vir al die Israeliete sê:

15. ‘Ons vervloek elke persoon wat ’n beeld maak en wat dit dien waar niemand anders dit sien nie. Die Here haat dit. ’n Beeld is iets wat ’n ambagsman maak.’ En die hele volk moet dan sê: ‘Ja, dit sal so wees.’

16. “Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat nie sy pa en sy ma respekteer nie.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees.’

17. “Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat die grense van sy buurman se grond verander om vir homself meer grond te kry.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’

18. “Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat ’n blinde mens op ’n verkeerde pad lei.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’

19. “Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat nie reg doen aan vreemdelinge, of aan weeskinders en weduwees nie.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’

20. “Die Leviete moet dan sê: ‘Ons vervloek elkeen wat seks het met sy pa se vrou, want hy verneder sy pa.’ En die hele volk moet sê: ‘Ja, dit sal so wees!’

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 27