Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 26:9-19 Bybel vir Almal (ABA)

9. en Hy het ons gebring na hierdie plek. Hy het hierdie land vir ons gegee. Dit is ’n land waar daar baie melk en heuning is.

10. En kyk nou hier, ek het die eerste vrugte gebring van die land wat die Here vir my gegee het.’“Dan moet jy die mandjie voor die Here neersit en jy moet buig voor jou God die Here.

11. Daarna moet jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by julle woon, feesvier en julle moet al die goeie dinge geniet wat die Here vir jou en jou huisgesin gegee het.”

12. “Jy moet elke derde jaar jou tiendes gee. Wanneer jy jou tiendes klaar apart gesit het, die tiendes van jou koring-oes wat jy in daardie jaar gekry het, dan moet jy dit gee vir die Leviete, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Hulle moet dit eet in julle stede en hulle moet genoeg kry.

13. Dan moet jy daar by jou God die Here sê: ‘Ek het alles wat ek aan die Here moes wy, weggeneem uit my huis en ek het dit gegee vir die Leviete, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Ek het gedoen wat U in al u wette gesê het. Ek was gehoorsaam aan al u wette, ek het u wette nie vergeet nie.

14. Ek het nie van daardie kos geëet toe ek gerou het nie, ek het niks daarvan weggeneem toe ek onrein was nie, en ek het nie daarvan gegee vir iemand wat sterf nie. Ek het geluister na my God die Here, ek het alles gedoen wat Hy gesê het.

15. “ ‘Here, U moet afkyk uit u gewyde woonplek in die hemel. U moet u volk seën en ook die land wat U vir ons gegee het. U het vir ons voorvaders belowe dat U vir ons ’n land sal gee waar daar baie melk en heuning is.’ ”

16. “Julle God die Here het vandag vir julle gesê dat julle moet doen wat Hy gesê het en wat Hy besluit het, julle moet dit doen met julle hele hart en lewe.

17. Julle het vandag gesê dat die Here julle God sal wees. Julle het belowe dat julle sal lewe soos Hy wil hê, dat julle alles sal doen wat sy wette sê, dat julle gehoorsaam sal wees aan Hom.

18. Die Here het vandag ook gesê dat julle sy volk sal wees. Hy het gesê dat julle aan Hom behoort en dat julle baie kosbaar is. Hy het ook gesê dat julle alles moet doen wat Hy sê.

19. Hy sal julle belangriker maak as al die ander volke wat Hy gemaak het. Almal sal julle prys, almal sal weet van julle en hulle sal julle respekteer. Julle sal die gewyde volk van julle God die Here wees, soos Hy belowe het.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 26