Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 20:8-20 Bybel vir Almal (ABA)

8. “Die voormanne moet ook vir die manne sê: ‘Wie het moedeloos en bang geword? Hy moet teruggaan na sy huis sodat hy nie die ander manne ook moedeloos laat word nie.’

9. “Nadat die voormanne met die manne gepraat het, moet hulle offisiere kies en aanstel om hoofde van die leër te wees.

10. Wanneer julle gereed is om oorlog te maak teen ’n stad, dan moet julle vir hulle vra of hulle vrede wil maak.

11. En as hulle sê dat hulle vrede wil maak, en hulle maak die poorte van die stad oop vir julle, dan moet hulle altyd vir julle werk.

12. As hulle nie vrede wil maak nie, maar hulle wil oorlog maak teen julle, dan moet julle die stad van al die kante aanval.

13. En as julle God die Here julle laat wen, dan moet julle al die mans doodmaak.

14. Julle moet die vroue en die kinders en die diere en alles wat in die stad is, vir julleself vat. Julle moet die goed van julle vyande gebruik, julle God die Here gee dit vir julle.

15. Dit moet julle doen met al die stede wat baie ver van julle is, maar julle moenie dieselfde doen met die stede van hierdie volke wat hier is nie.

16. Nee, julle moet niemand laat aanhou lewe in die stede van hierdie volke nie, die stede wat julle God die Here vir julle gee om julle stede te wees.

17. Julle moet niemand laat lewe nie, julle moet hulle almal doodmaak soos julle God die Here vir julle gesê het, die Hetiete en die Amoriete en die Kanaäniete en die Feresiete en die Hewiete en die Jebusiete.

18. As julle dit nie doen nie, dan sal hulle vir julle leer om al die dinge te doen wat hulle vir hulle gode doen. Die Here haat daardie dinge, julle moenie sonde doen teen julle God die Here nie.

19. Wanneer julle ’n stad ’n lang tyd van al die kante aanval en oorlog maak teen die mense om hulle te oorwin, dan moet julle nie die vrugtebome afkap nie. Die bome is nie mense teen wie julle moet oorlog maak nie, julle moet die bome se vrugte eet.

20. Julle mag net die bome afkap as julle weet dit dra nie vrugte nie. Julle mag daardie bome afkap en dit gebruik om dinge te maak om in die stad te kom, die stad waarteen julle oorlog maak totdat die mure omval.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 20