Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 18:8-20 Bybel vir Almal (ABA)

8. Hy mag dieselfde kos eet wat hulle eet, ook wanneer hy van sy oupa of sy pa geld ge-erf het.”

9. “Wanneer julle in die land kom wat julle God die Here vir julle gee, dan moet julle nie leer om die dinge te doen wat daardie volke doen nie, die Here haat dit.

10. Niemand moet sy kind verbrand nie, niemand moet sê hy weet dinge wat ander mense nie kan weet nie. Hy moet ook nie sê hy sien tekens en hy weet wat sal gebeur nie, of hy kan toor,

11. of hy kan met slange praat, of hy kan vir die gees van iemand wat dood is, vra wat sal gebeur, of hy is ’n waarsêer nie.

12. Want die Here haat elke mens wat hierdie dinge doen, en daarom jaag die Here daardie volke weg om plek te maak vir julle.

13. Julle moet aan die Here behoort met julle hele hart.

14. Julle sal nou ander volke se grond gaan vat, daardie volke luister na mense wat sê hulle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie, hulle luister na waarsêers, maar julle mag dit nie doen nie, julle God die Here wil nie hê dat julle dit moet doen nie.”

15. “Julle God die Here sal een van julle stuur om ’n profeet te wees soos ek. Julle moet luister na daardie profeet.

16. Julle het dit vir julle God die Here gevra by Horeb-berg toe julle daar bymekaar was. Julle het gesê: ‘Ons wil nie weer die stem van ons God die Here hoor nie, ons wil nie weer hierdie groot vuur sien nie, want dan sal ons sterf.’

17. “Die Here het toe vir my gesê: ‘Hulle is reg,

18. Ek sal vir hulle ’n profeet stuur, die profeet sal een van hulle eie mense wees. Ek sal vir hom sê wat hy moet sê, en hy sal vir hulle alles sê wat Ek vir hom sê.

19. En Ek sal self die persoon straf wat nie luister na wat Ek sê wanneer Ek die profeet stuur nie.

20. Maar as ’n profeet dink hy mag iets sê wat Ek nie gesê het hy moet sê nie, dan moet daardie profeet sterf, ook as die profeet sê ander gode het hom gestuur om iets te sê.’

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 18