Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 16:13-22 Bybel vir Almal (ABA)

13. “Wanneer julle klaar koring getrap het op die dorsvloer en klaar wyn gemaak het in die parskuip, dan moet julle die Hutte-fees sewe dae lank vier.

14. Julle moet saam feesvier, julle en julle kinders, en julle slawe en slavinne, en die vreemdelinge en weeskinders en weduwees wat by julle woon.

15. Julle moet die fees sewe dae lank vir julle God die Here vier op die plek wat die Here sal kies, want julle God die Here sal dit goed laat gaan met julle koring-oeste en met alles wat julle doen. Julle sal graag hierdie fees wil vier.”

16. “Al julle mans en seuns moet drie maal elke jaar julle God die Here kom aanbid op die plek wat Hy sal kies. Hulle moet dit doen op die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Hutte-fees. En elkeen moet iets saambring vir die Here.

17. Elkeen moet presente saambring, hy moet self besluit hoeveel hy wil gee omdat sy God die Here hom geseën het en dit alles vir hom gegee het.”

18. “Julle moet regters en voormanne vir al die stamme kies en aanstel in al die woonplekke wat julle God die Here vir julle gee. Hulle moet die mense oordeel en hulle moet regverdig wees wanneer hulle besluit.

19. Julle moenie sê skuldige mense is onskuldig en onskuldige mense is skuldig nie, julle moenie téén party mense wees en vír ander mense wees nie. Julle moenie presente neem van skuldige mense en dan sê hulle is onskuldig nie, want presente maak wyse mense blind en laat dit sleg gaan met mense wat reg doen.

20. Julle moet reg doen, julle moet nét reg doen, sodat julle kan aanhou lewe in die land wat julle God die Here vir julle gee.”

21. “Julle mag nie vir julle gewyde pale in die grond plant by die altaar wat julle vir julle God die Here maak nie.

22. Julle mag nie klip-pale in die grond plant nie, die Here haat dit.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 16