Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11:12-25 Bybel vir Almal (ABA)

12. Die Here hou aan om te sorg vir hierdie land, van die begin tot die einde van die jaar.

13. Die Here sê: ‘Ek wil hê julle moet doen wat my wette sê, die wette wat Ek vandag vir julle gee. Julle moet lief wees vir My, julle God die Here, julle moet My dien met julle hele hart.

14. As julle dit doen, dan sal Ek die reën vir julle land gee op die regte tyd, vroeë reën en laat reën. Daar sal genoeg koring en wyn en olyf-olie wees om bymekaar te maak en te bêre,

15. en Ek sal vir julle diere gras gee in die veld. Julle sal genoeg hê om te eet.’

16. “Maar julle moet baie versigtig wees. Die mense van die ander volke sal julle wil verlei om weg te gaan van die Here, om ander gode te dien en om voor hulle te buig.

17. As dit gebeur, dan sal die Here kwaad word vir julle en Hy sal die hemel toesluit sodat daar niks reën sal wees nie, daar sal niks in die grond groei nie. Dan sal julle gou verdwyn uit die goeie land wat die Here vir julle gee.

18. Julle moet die dinge onthou wat ek vandag vir julle sê. Julle moet dink aan hierdie dinge wanneer julle werk met julle hande en wanneer julle na iets kyk

19. en julle moet hierdie dinge vir julle kinders leer. Julle moet oor hierdie dinge praat wanneer julle in julle huise sit en wanneer julle op die pad loop, wanneer julle lê en wanneer julle staan.

20. Julle moet hierdie dinge onthou wanneer julle uitgaan en ingaan by die deure van julle huise en julle poorte.

21. As julle dit alles doen, dan sal julle en julle kinders lank lewe in die land wat die Here vir julle voorvaders belowe het. Julle sal hier woon so lank soos die hemel en die aarde daar sal wees.

22. Ja, julle moet doen wat al hierdie gebooie sê, die gebooie wat Ek vir julle gegee het. Julle moet lief wees vir julle God die Here, julle moet alles doen wat Hy vir julle sê en julle moet aanhou om Hom te dien.

23. As julle dit alles doen, sal die Here al hierdie volke wegjaag om plek te maak vir julle. Julle sal die land vat van volke wat groter en sterker is as julle.

24. Elke plek waar julle sal kom, sal julle plek word, van die woestyn tot by die Libanon-berg, van die Eufraat-rivier tot by die see in die weste. Dit sal julle land word.

25. Niemand sal kan wen teen julle nie, julle God die Here sal al die mense in die land laat skrik vir julle en bang laat word vir julle, soos Hy belowe het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 11