Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het gesê: “Julle moet lief wees vir julle God die Here en julle moet altyd doen wat sy wette sê.

2. Julle moet vandag onthou: Julle God die Here het nie vir julle kinders geleer hoe hulle moet lewe nie. Nee, Hy het vir júlle geleer. Dit is júlle wat gesien het hoe groot Hy is. Julle het sy groot krag gesien

3. en sy tekens en alles wat Hy in Egipte gedoen het aan die farao, die koning van Egipte, en aan sy hele land.

4. Julle het gesien wat die Here gedoen het aan die leër van Egipte, hulle perde en hulle oorlogkarre. Julle het gesien hoe Hy die water van die Riet-see oor hulle laat vloei het toe hulle vir julle gevolg en gejaag het. Die Here het hulle vir altyd laat sterf.

5. Julle het gesien wat Hy in die woestyn vir julle gedoen het totdat julle hier aangekom het.

6. Julle het gesien wat Hy gedoen het met Datan en Abiram, die seuns van Eliab van die nageslag van Ruben. Julle het gesien hoe die aarde oopgeskeur en hulle ingesluk het saam met hulle huisgesinne en hulle tente en almal wat saam met hulle opstandig was. Al die ander Israeliete het dit gesien.

7. Ja, julle het elke groot ding gesien wat die Here gedoen het.

8. Nou moet julle alles doen wat die wette sê wat ek vandag vir julle gee. As julle dit doen, dan sal julle sterk wees en julle sal die land gaan vat waarnatoe julle gaan.

9. En dan sal julle lank lewe in die land wat die Here vir julle voorvaders belowe het, Hy het belowe om dit vir hulle en hulle nageslag te gee. Dit is ’n land waar baie melk en heuning is.

10. Ja, julle gaan na daardie land om dit vir julleself te vat, dit is nie soos die land Egipte van waar julle kom nie. In Egipte moes julle saad saai en dit natlei soos ’n groentetuin.

11. Maar die land wat julle nou vir julleself gaan vat, is ’n land wat berge en valleie het, hulle kry water van die reën uit die lug.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 11