Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 3:12-21 Bybel vir Almal (ABA)

12. Maar daar is manne van Juda, hulle doen nie wat jy gesê het nie. Hulle name is Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hulle is die manne wat jy gekies het om te help regeer oor die land Babel. Hulle dien nie jou god nie, hulle buig nie voor die beeld wat jy gemaak het nie.”

13. Koning Nebukadnesar het baie kwaad geword. Hy het gesê sy soldate moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego bring. Toe hulle voor koning Nebukadnesar staan,

14. sê hy vir hulle: “Sadrag, Mesag en Abed-Nego, is dit waar dat julle nie my god wil dien nie? Is dit waar dat julle nie wil buig voor die beeld wat ek gemaak het nie?

15. Nou, wanneer julle musiek hoor en julle buig voor die goue beeld wat ek gemaak het, dan sal dit goed wees. Maar as julle nie buig nie, dan sal my manne julle dadelik in die groot vuur gooi. Ek sal dit met julle doen. Daar is nie ’n god wat my kan stop nie.”

16. Sadrag, Mesag en Abed-Nego het vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons kan niks vir jou sê nie.

17. Ons God kan ons red, ons dien Hom, en Hy sal keer dat ons nie brand nie wanneer jy ons in die vuur gooi.

18. Maar, Koning, jy moet weet, ook as ons God ons nie red nie, dan sal ons nie jou god dien nie en ons sal nie buig voor die beeld wat jy gemaak het nie.”

19. Nebukadnesar het baie kwaad geword vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hy het vir sy manne gesê hulle moet die vuur sewe maal warmer maak as wat dit altyd was.

20. Toe het hy vir sy soldate gesê hulle moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego vasbind en in die vuur gooi.

21. Die soldate het hulle vasgebind en in die vuur gegooi. Sadrag, Mesag en Abed-Nego het nog al hulle klere aangehad.

Lees volledige hoofstuk Daniël 3