Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 1:11-20 Bybel vir Almal (ABA)

11. Aspenas het vir ’n ander amptenaar gesê hy moet vir Daniël, Gananja, Misael en Asarja sorg. Daniël het toe met daardie amptenaar gaan praat.

12. Hy het gesê: “Toets asseblief ons plan tien dae lank. Gee vir ons groente om te eet en water om te drink.

13. Dan kyk jy hoe lyk ons en hoe lyk die seuns wat die koning se kos geëet het. Dan kan jy besluit wat jy met ons wil doen.”

14. Die amptenaar het gedoen wat Daniël en sy vriende gevra het. Hy het hulle tien dae lank so getoets.

15. Toe die tien dae verby was, het hulle beter en vetter gelyk as al die seuns wat die koning se kos geëet het.

16. Toe het die amptenaar nie weer vir hulle van die koning se kos en wyn gegee nie. Hy het vir hulle net groente gegee.

17. God het daardie vier seuns baie slim gemaak. Hulle het van alles geweet, en Daniël kon ook sê wat dit beteken wanneer iemand droom en iets sien.

18. Die koning het gesê hulle moet die seuns ná drie jaar bring. Toe die drie jaar verby was, het Aspenas die seuns na koning Nebukadnesar toe gebring.

19. Die koning het met hulle gepraat en hy het nie ander seuns gekry wat so slim was soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle het begin werk vir die koning.

20. Die koning het partymaal vir hulle gevra wat hulle dink hy moet doen. Hulle antwoord was dan tien maal beter as die antwoorde van al die slim mense in sy hele land.

Lees volledige hoofstuk Daniël 1