Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:17-28 Bybel vir Almal (ABA)

17. Daar was 1 000 manne van die Benjamin-stam by hom. Siba wat vir die familie van Saul gewerk het en sy 15 seuns en 20 slawe was ook by hom. Hulle was vóór die koning by die Jordaan-rivier.

18. Hulle het deur die rivier gegaan om die huisgesin van die koning deur die rivier te bring en om te doen wat hy wil hê. Toe die koning deur die Jordaan-rivier gekom het, het Simeï seun van Gera voor hom kom lê

19. en hy het vir die koning gesê: “Meneer moet my asseblief nie straf oor die verkeerde ding wat ek gedoen het toe Meneer die koning uit Jerusalem moes gaan nie. Meneer moenie daaraan dink en kwaad bly vir my nie.

20. Ek weet ek het sonde gedoen, en daarom het ek vandag eerste afgekom om die koning te ontmoet. Ek was voor die Josef-stamme hier.”

21. Abisai seun van Seruja het gesê: “Simeï moet sterf, want hy het die gesalfde van die Here vervloek.”

22. Maar Dawid het gesê: “Seuns van Seruja, hoekom sê julle dit vir my? Wil julle my vandag verkeerd laat doen? Ons maak vandag niemand dood in die land Israel nie, want ek weet ek is vandag koning van Israel.”

23. Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie sterf nie.”Die koning het dit belowe en hy het gesê die Here is getuie.

24. Mefiboset kleinseun van Saul het ook vir Dawid kom ontmoet. Vandat die koning weg is totdat hy veilig teruggekom het, het Mefiboset nie sy voete gewas of sy baard geknip of sy klere gewas nie.

25. Toe hy in Jerusalem gekom het om die koning te ontmoet, het die koning vir hom gevra: “Mefiboset, hoekom het jy nie saam met my gekom nie?”

26. Mefiboset sê toe: “Meneer die koning, die man wat my moet help, het my gelos. My bene is verlam, en ek het gesê hy moet vir my ’n donkie opsaal sodat ek kan ry en saam met die koning kan gaan.

27. En hy het ook nog geskinder oor my by Meneer die koning, maar Meneer die koning is soos ’n engel van God, jy moet doen wat jy dink is reg.

28. Jy kon my en my hele familie doodgemaak het, maar jy het my aan jou tafel laat eet. Ek kan niks meer vra nie, ek kan net vra dat die koning my moet help.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19