Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:22-33 Bybel vir Almal (ABA)

22. Joab het gebuig met sy gesig teen die grond en hy het die koning geprys en gesê: “Meneer die koning, vandag weet ek dat jy van my hou, want jy doen wat ek gevra het.”

23. Joab het gereedgemaak. Hy het na die land Gesur gegaan en hy het vir Absalom teruggebring na Jerusalem.

24. Die koning het vir Joab gesê: “Laat Absalom na sy huis gaan, ek wil hom nie sien nie.”Absalom het huis toe gegaan en hy het nie die koning gesien nie.

25. Absalom was baie mooi. In die hele land Israel was niemand so mooi soos hy nie. Almal het daaroor gepraat. Daar was niks verkeerd aan hom nie, van sy kop tot by sy tone.

26. Hy het elke jaar sy hare laat afskeer omdat dit te swaar geword het vir hom, en die hare wat hy elke maal afgeskeer het, het 200 sikkels geweeg op die koningsmaat.

27. Absalom het drie seuns en een dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, sy was ’n baie mooi vrou.

28. Absalom was twee jaar lank terug in Jerusalem, maar hy het nog nie die koning gesien nie.

29. Absalom het vir Joab laat weet dat hy vir Joab na die koning toe wil stuur, maar Joab wou nie na Absalom toe kom nie. Absalom het weer laat weet, maar Joab wou nie kom nie.

30. Absalom sê toe vir sy slawe: “Julle sien die land van Joab hier langs my grond. Joab het gars wat daarop groei, gaan steek dit aan die brand.”Die slawe van Absalom het toe die gars aan die brand gesteek.

31. Toe kom Joab na Absalom se huis en hy vra vir Absalom: “Hoekom het jou slawe my gars aan die brand gesteek?”

32. Absalom sê toe vir Joab: “Luister na my, ek het jou laat roep om hiernatoe te kom. Ek wil jou na die koning toe stuur. Ek wil hê jy moet vir hom vra hoekom hy gesê het ek moet terugkom uit Gesur. Dit sou vir my beter gewees het as ek daar gebly het. Daarom, ek wil nou die koning sien, en as ek skuldig is, dan moet hy my doodmaak.”

33. Joab het na die koning toe gegaan en hy het dit vir die koning vertel. Die koning het vir Absalom laat roep. Toe Absalom by die koning kom, het hy voor die koning gebuig met sy gesig teen die grond, en die koning het vir Absalom gesoen.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14