Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 11:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Dit was in die lente-tyd, die tyd wanneer konings altyd gaan oorlog maak het. Dawid het vir Joab en sy manne en al die Israeliete gestuur, en hulle het die Ammoniete oorwin. Hulle het hulle tente opgeslaan rondom die stad Rabba. Dawid het in Jerusalem gebly.

2. Een aand het hy opgestaan van sy rusbank en hy het op die dak van die paleis gaan loop. Hy sien toe ’n vrou wat bad. Sy was baie mooi.

3. Dawid het iemand gestuur om uit te vind wie die vrou is. Dit was Batseba, die dogter van Eliam. Batseba was die vrou van Urija die Hetiet.

4. Dawid het boodskappers gestuur om die vrou te gaan haal. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Dit het gebeur ná haar reinigingsbad.

5. Batseba het teruggegaan huis toe, en toe sy besef dat sy swanger is, het sy vir Dawid laat weet sy is swanger.

6. Dawid het toe vir Joab laat weet hy moet Urija die Hetiet na hom toe stuur. Joab het dit gedoen.

7. Toe Urija by Dawid kom, het Dawid vir hom gevra hoe dit gaan met Joab en die manne en die oorlog.

8. Daarna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou huis toe en was jou voete.”Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning vir hom ’n present gestuur.

9. Maar Urija het nie huis toe gegaan nie, hy het voor die paleis geslaap by die mense wat vir die koning gewerk het.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 11