Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 1:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Nadat Saul gesterf het, het Dawid die Amalekiete oorwin en toe het hy teruggekom. Hy was twee dae in die stad Siklag,

2. en op die derde dag het daar iemand gekom uit die kamp van die manne van Saul. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Toe hy by Dawid kom, het hy laag gebuig en hy het op die grond gaan lê.

3. Dawid het vir hom gevra: “Van waar kom jy?”Die man het geantwoord: “Ek het weggevlug uit die kamp van die Israeliete.”

4. Toe vra Dawid vir hom: “Wat het gebeur, vertel asseblief vir my.”Die man het gesê: “Die manne het gevlug uit die oorlog, en baie manne het gesterf. Saul en sy seun Jonatan is ook dood.”

5. Toe vra Dawid vir die jongman wat dit vir hom kom sê het: “Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is?”

6. Die jongman het gesê: “Ek het op Gilboa-berg gekom, en daar het ek vir Saul gesien, hy het in sy spies geval. Die Filistyne se oorlogkarre en hulle manne op perde was rondom hom.

7. Saul het omgekyk en hy het vir my geroep, en toe ek antwoord,

8. vra hy vir my wie ek is. Ek het vir hom gesê ek is ’n Amalekiet.

9. Toe sê hy vir my: ‘Jy moet asseblief hier na my toe kom en jy moet my doodmaak, want ek lewe nog maar ek is besig om te sterf en ek is baie bang.’

10. “Ek het na hom toe gegaan en ek het hom doodgemaak, want ek het geweet hy sal nie lank lewe nie omdat hy in sy spies geval het. Ek het die kroon op sy kop en die armband aan sy arm geneem en ek het dit hiernatoe gebring vir Meneer.”

11. Dawid en al die manne by hom het hulle klere gegryp en hulle het dit geskeur.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 1