Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:21-31 Bybel vir Almal (ABA)

21. Die koning se skepe het saam met die manne van Hiram na die land Tarsis gegaan. Die skepe het elke drie jaar goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane gebring.

22. Koning Salomo het ryker geword as al die konings van die aarde en hy het meer wysheid gehad as hulle.

23. Al die konings van die aarde het gekom om vir Salomo te sien en om te luister na sy wysheid, die wysheid wat God vir hom gegee het.

24. Die mense het almal presente saamgebring. Dit was silwergoed of goue goed of klere of wapens of speserye of perde of muile. Dit het elke jaar gebeur.

25. Salomo het 4 000 stalle vir sy perde en oorlogkarre gehad en hy het 12 000 ryperde gehad. Hy het party perde in die stede laat bly om die oorlogkarre te trek en hy het party perde by hom in Jerusalem laat bly.

26. Koning Salomo het regeer oor al die konings tussen die Eufraat-rivier en die land van die Filistyne en die grens van die land Egipte.

27. Salomo het so baie silwer gehad soos die klippe in Jerusalem en so baie sederhout soos die wildevyebome in die Laeveld.

28. Salomo het perde laat kom uit Egipte en uit al die lande.

29. Die ander dinge wat Salomo voorheen en later gedoen het, is geskryf in hierdie boeke: die Geskiedenis van die Profeet Natan, die Boodskappe van Agija van Silo en die Dinge wat die Siener Iddo gesien het en geskryf het oor Jerobeam seun van Nebat.

30. Salomo was 40 jaar lank koning in Jerusalem oor die hele Israel.

31. Salomo het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad van sy pa Dawid. Salomo se seun Rehabeam het koning geword ná Salomo.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9