Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:22-30 Bybel vir Almal (ABA)

22. Koning Nebukadnesar het vir Gedalja seun van Agikam seun van Safan gekies en aangestel oor die mense wat hy in die land Juda laat bly het.

23. Toe al die hoofde van die leër en hulle manne hoor dat die koning van Babel vir Gedalja aangestel het, het hulle na Gedalja toe in Mispa gegaan. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet van die stad Netofa, en Jaäsanja van die stad Maäka, en hulle manne.

24. Gedalja het vir die offisiere en hulle manne gesê: “So seker soos die Here lewe, julle moenie bang wees vir die amptenare van die Galdeërs nie. Julle moet in die land woon en vir die koning van Babel werk, dan sal dit goed gaan met julle.”

25. Ismael seun van Netanja seun van Elisama was familie van die koning. In die sewende maand het Ismael en tien manne saam met hom vir Gedalja vermoor. Hulle het ook die Judeërs en Galdeërs vermoor wat saam met hom in Mispa was.

26. Daarna het al die mense, kinders en grootmense, en ook die hoofde van die leër, gereedgemaak en na Egipte gegaan, want hulle was bang vir die Galdeërs.

27. In die sewe-en-dertigste jaar nadat koning Jojagin van Juda ’n gevangene geword het, het koning Ewil-Merodak van Babel vir Jojagin uit die tronk laat uitkom. Dit was in die twaalfde maand, op die sewe-en-twintigste dag van die maand.

28. Ewil-Merodak het vriendelik gepraat met Jojagin en hy het hom laat sit op ’n belangriker plek as die ander konings wat by hom in Babel was.

29. Jojagin kon sy tronk-klere uittrek en hy kon by die koning se tafel eet totdat hy gesterf het.

30. Die koning van Babel het vir Jojagin elke dag alles gegee wat hy nodig gehad het, totdat hy gesterf het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25