Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 20:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Koning Hiskia het in daardie tyd baie siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou familie sê wat jy wil hê hulle moet doen, want jy sal sterf, jy sal nie gesond word nie.”

2. Hiskia het sy gesig na die muur gedraai en hy het tot die Here gebid.

3. Hy het gesê: “Ag, Here, dink asseblief daaraan dat ek gehoorsaam was aan U met my hele hart en dat ek altyd gedoen het wat U wil hê.”Hiskia het hard gehuil.

4. Voordat Jesaja verby die oop stuk grond binne-in die stad geloop het, het die Here met hom gepraat. Die Here het vir hom gesê:

5. “Jy moet omdraai en jy moet vir Hiskia, die koning van my volk, gaan sê: Ek, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het jou gebed gehoor en Ek het jou trane gesien. Ek sal jou gesond maak. Jy sal oormôre weer na die tempel kan gaan.

6. Ek sal jou nog 15 jaar laat lewe. Ek sal jou en hierdie stad red van die koning van Assirië, Ek sal hierdie stad beskerm vir Myself en vir my dienaar Dawid.”

7. Jesaja het toe gesê hulle moet ’n pleister van vye maak en hulle moet dit op die koning se seerplek sit sodat dit gesond kan word.

8. Hiskia het gevra hoe hy sal weet dat die Here hom gesond sal maak sodat hy oormôre weer na die tempel kan gaan.

9. Jesaja het gesê: “Die Here sal doen wat Hy gesê het, en dit sal vir jou die teken wees: Die son is al klaar laag, en die skaduwee op die trappe wys dat dit laat is. Moet die Here die skaduwee tien trappe vorentoe laat gaan of moet Hy dit tien trappe terug laat gaan?”

10. Hiskia het gesê: “Die skaduwee kan maklik tien trappe vorentoe gaan. Nee, die skaduwee moet tien trappe teruggaan.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 20