Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 19:3-18 Bybel vir Almal (ABA)

3. Hulle het vir Jesaja gesê: “Hiskia sê hierdie dag is ’n slegte dag, die Here straf ons vandag. Dit lyk of die Here ons gelos het. Dit is soos wanneer ’n baba al amper gebore word, maar sy ma is te swak om die baba te kry.

4. Miskien het jou God die Here gehoor wat die hoof-offisier gesê het. Dit is sy koning, die koning van Assirië, wat hom gestuur het om sleg te praat oor die God wat lewe. Miskien sal jou God die Here die koning van Assirië straf oor wat die koning gesê het. Ons wat nog lewe, is min, maar bid asseblief vir ons.”

5. Toe die amptenare van koning Hiskia by Jesaja kom,

6. sê Jesaja vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê die Here sê: Hiskia, jy het gehoor toe die offisiere van die koning van Assirië sleg gepraat het oor My, maar jy moenie bang wees daaroor nie.

7. Ek sal die koning van Assirië bang laat word. Hy sal ’n boodskap kry en hy sal teruggaan na sy eie land. Daar in sy land sal iemand hom doodsteek.”

8. Die hoof-offisier het teruggegaan. Hy het gehoor dat die koning van Assirië weggegaan het van die stad Lakis en dat hy teen die stad Libna oorlog maak. Die hoof-offisier het die koning by Libna gekry.

9. Die koning het gehoor dat Tirhaka, die koning van die land Kus, kom om oorlog te maak teen hom. Toe die koning dit hoor, het hy boodskappers na Hiskia toe gestuur. Hy het vir die boodskappers gesê

10. hulle moet vir koning Hiskia van Juda sê: “Hiskia, jy glo in jou God, maar jy moenie dat Hy jou bedrieg nie. Jou God sê die koning van Assirië sal nie Jerusalem oorwin nie. Dit is nie waar nie.

11. Jy het self gehoor wat die koning van Assirië gedoen het met al die ander lande. Hy het daardie lande verwoes. Wie sal jou red?

12. Het die ander volke se gode hulle gered toe my voorvaders hulle oorwin het? Nee. My voorvaders het al die mense van die stede Gosan en Haran oorwin, en ook die mense van die stad Resef en die mense van die land Eden wat in Telassar woon.

13. Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa? Hulle is nie meer daar nie.”

14. Hiskia het die briewe geneem wat die boodskappers gebring het, en hy het dit gelees. Toe het Hiskia na die tempel gegaan en hy het die briewe neergesit voor die Here.

15. Hiskia het tot die Here gebid en gesê: “Here, God van Israel, u troon is bokant die gerubs. U alleen is God van al die lande op die aarde. U het die hemel en die aarde gemaak.

16. U moet asseblief luister, U moet hoor, U moet kyk en sien en hoor wat Sanherib sê. Hy het boodskappe gestuur om sleg te praat oor U, die God wat lewe.

17. Here, die konings van Assirië het al die ander volke en hulle lande verwoes, dit is waar.

18. Hulle het die volke se gode in die vuur gegooi. Maar daardie gode was nie waarlik gode nie, mense het hulle gemaak van hout en klip. Daarom het die gode verdwyn.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 19