Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:10-21 Bybel vir Almal (ABA)

10. Nabal het geantwoord en hy het vir die manne van Dawid gesê: “Wie is Dawid? Wie is die seun van Isai? Daar is vandag baie slawe wat wegloop van hulle eienaars.

11. Ek het my brood en my water en my vleis gereedgemaak vir die mense wat my skape skeer. Moet ek dit nou neem en vir julle gee? Ek weet nie van waar julle kom nie.”

12. Dawid se manne het toe omgedraai en teruggekom en hulle het vir Dawid kom sê wat Nabal alles gesê het.

13. Toe sê Dawid vir sy manne: “Maak vas julle swaarde.”Almal het hulle swaarde vasgemaak, en Dawid het dit ook gedoen. Omtrent 400 manne het saam met Dawid gegaan, en 200 manne het by die goed gebly.

14. Maar een van Nabal se manne het vir Abigajil gaan sê: “Weet jy dat Dawid boodskappers uit die woestyn gestuur het om ons meneer te groet? Ons meneer het hulle toe beledig.

15. Maar Dawid se manne was baie goed vir ons. Daardie tyd toe ons rondgetrek het en toe hulle saam met ons in die veld was, het niks weggeraak nie.

16. Hulle het ons in die dag en in die nag beskerm toe ons saam met hulle was en die skape opgepas het.

17. En nou, jy moet dit weet en jy moet dink wat jy kan doen, want dit sal sleg gaan met ons meneer en met almal in sy huisgesin. Hy is ’n slegte man, dit help nie om met hom te praat nie.”

18. Abigajil het toe gou gemaak. Sy het 200 brode geneem en twee velsakke wyn en vyf skape wat hulle klaar geslag het en vyf sea gebraaide koring en 100 koeke rosyne en 200 koeke gedroogde vye. Sy het dit op donkies gelaai

19. en sy het vir haar slawe gesê: “Julle moet voor my gaan, ek sal later kom.”Sy het niks vir haar man Nabal gesê nie.

20. Sy het op ’n donkie gery en teen die ander kant van die berg afgegaan en daar kry sy toe vir Dawid en sy manne wat na haar toe aankom.

21. Dawid het gedink: Ek het alles in die woestyn opgepas wat aan hierdie man behoort, maar dit het my niks gehelp nie. Daar het niks van hom weggeraak nie. Ek was goed vir hom, maar hy het slegte dinge gedoen aan my.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25