Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Toe Samuel gesterf het, het al die Israeliete bymekaargekom en hulle het oor hom gerou.

2. Daar was ’n man in die stad Maon. Hy was baie ryk. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke by die stad Karmel gehad. Hy was besig om sy skape en bokke se wol af te skeer by Karmel.

3. Die man se naam was Nabal, en sy vrou was Abigajil. Sy was ’n verstandige en ’n mooi vrou, maar hy was ’n hardkoppige en ’n slegte man. Hy was van die Kaleb-stam.

4. Dawid het in die woestyn gehoor dat Nabal besig is om sy skape en bokke te skeer.

5. Dawid het tien jongmanne gestuur en hy het vir hulle gesê: “Julle moet na Karmel gaan en wanneer julle by Nabal kom, dan moet julle sê ek het julle gestuur om te hoor hoe dit met hom gaan.

6. Julle moet vir hom sê ek sê: ‘Ek bid dat jy gesond sal bly en dat dit goed sal gaan met jou, en ook met jou huisgesin en met alles wat jy het.

7. En nou, ek het gehoor dat jy besig is om skape te skeer. Die wagters wat jou diere opgepas het, was by ons, en ons het hulle nie gepla nie. Niks het weggeraak in daardie tyd toe hulle by Karmel was nie.

8. Jy kan jou manne vra, hulle sal vir jou sê dit is waar. Jy moet asseblief vriendelik wees met my manne, want vandag is ’n feesdag. Gee asseblief vir hulle en vir my, Dawid, ook van die kos wat jy het.’ ”

9. Dawid se manne het vir Nabal alles gaan sê wat Dawid vir hulle gesê het en hulle het gewag.

10. Nabal het geantwoord en hy het vir die manne van Dawid gesê: “Wie is Dawid? Wie is die seun van Isai? Daar is vandag baie slawe wat wegloop van hulle eienaars.

11. Ek het my brood en my water en my vleis gereedgemaak vir die mense wat my skape skeer. Moet ek dit nou neem en vir julle gee? Ek weet nie van waar julle kom nie.”

12. Dawid se manne het toe omgedraai en teruggekom en hulle het vir Dawid kom sê wat Nabal alles gesê het.

13. Toe sê Dawid vir sy manne: “Maak vas julle swaarde.”Almal het hulle swaarde vasgemaak, en Dawid het dit ook gedoen. Omtrent 400 manne het saam met Dawid gegaan, en 200 manne het by die goed gebly.

14. Maar een van Nabal se manne het vir Abigajil gaan sê: “Weet jy dat Dawid boodskappers uit die woestyn gestuur het om ons meneer te groet? Ons meneer het hulle toe beledig.

15. Maar Dawid se manne was baie goed vir ons. Daardie tyd toe ons rondgetrek het en toe hulle saam met ons in die veld was, het niks weggeraak nie.

16. Hulle het ons in die dag en in die nag beskerm toe ons saam met hulle was en die skape opgepas het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25