Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 24:7-14 Bybel vir Almal (ABA)

7. Hy het vir sy manne gesê: “Die Here moet my keer, ek wil niks verkeerd doen aan my koning nie, hy is die gesalfde van die Here. Ek wil nie iets verkeerd doen teen hom nie, want hy is die gesalfde van die Here.”

8. Dawid het met sy manne gepraat en hy het hulle gekeer, hulle het nie vir Saul aangeval nie. Saul het klaargemaak en toe het hy uitgegaan uit die grot en verder gegaan.

9. Dawid het daarna opgestaan en uitgegaan uit die grot en hy het vir Saul geskree: “Meneer die koning!”Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en laag gebuig, sy gesig was teen die grond.

10. Dawid het vir Saul gesê: “Hoekom luister jy wanneer mense sê ek is jou vyand?

11. Jy het self gesien die Here het jou vandag vir my gegee daar in die grot, en as ek wou, dan kon ek jou doodgemaak het. Maar ek het jou nie doodgemaak nie, ek het gesê ek sal nie iets verkeerd doen teen my koning nie, want jy is die gesalfde van die Here.

12. “My vader, kyk hier, hier is die punt van jou bo-kleed in my hand. Ja, ek het die punt van jou bo-kleed afgesny, maar ek het jou nie doodgemaak nie. Jy kan sien ek is nie jou vyand nie, en jy moet dit weet, maar jy jaag my om my dood te maak.

13. Ek bid dat die Here sal sê wie het reg gedoen, ek of jy. Ek bid ook dat Hy jou sal straf oor wat jy aan my doen, maar ek self sal niks doen teen jou nie.

14. Die mense sê altyd: ‘Slegte mense doen slegte dinge,’ maar ek self sal niks doen teen jou nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 24