Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 24:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Dawid het weggegaan uit die Maon-woestyn en hy het in die berge by die stad En-Gedi gaan bly.

2. Toe Saul terugkom nadat hy teen die Filistyne gaan veg het, het die mense vir hom gesê dat Dawid in die woestyn by En-Gedi is.

3. Saul het 3 000 manne uit al die Israeliete gekies en hulle het vir Dawid en sy manne gaan soek. Hulle was naby die Klipbok-rotse.

4. Saul het by skaapkrale gekom en daar was ’n grot. Hy het in die grot ingegaan om hom te ontlas. Dawid en sy manne het agter in die grot gesit.

5. Dawid se manne sê toe vir hom: “Die Here sê vandag vir jou: ‘Ek gee jou vyand vir jou, daar is hy. Jy mag met hom doen wat jy wil.’ ”Dawid het nader gegaan en hy het stilletjies ’n punt van Saul se bo-kleed afgesny.

6. Maar daarna was hy jammer dat hy dit gedoen het.

7. Hy het vir sy manne gesê: “Die Here moet my keer, ek wil niks verkeerd doen aan my koning nie, hy is die gesalfde van die Here. Ek wil nie iets verkeerd doen teen hom nie, want hy is die gesalfde van die Here.”

8. Dawid het met sy manne gepraat en hy het hulle gekeer, hulle het nie vir Saul aangeval nie. Saul het klaargemaak en toe het hy uitgegaan uit die grot en verder gegaan.

9. Dawid het daarna opgestaan en uitgegaan uit die grot en hy het vir Saul geskree: “Meneer die koning!”Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en laag gebuig, sy gesig was teen die grond.

10. Dawid het vir Saul gesê: “Hoekom luister jy wanneer mense sê ek is jou vyand?

11. Jy het self gesien die Here het jou vandag vir my gegee daar in die grot, en as ek wou, dan kon ek jou doodgemaak het. Maar ek het jou nie doodgemaak nie, ek het gesê ek sal nie iets verkeerd doen teen my koning nie, want jy is die gesalfde van die Here.

12. “My vader, kyk hier, hier is die punt van jou bo-kleed in my hand. Ja, ek het die punt van jou bo-kleed afgesny, maar ek het jou nie doodgemaak nie. Jy kan sien ek is nie jou vyand nie, en jy moet dit weet, maar jy jaag my om my dood te maak.

13. Ek bid dat die Here sal sê wie het reg gedoen, ek of jy. Ek bid ook dat Hy jou sal straf oor wat jy aan my doen, maar ek self sal niks doen teen jou nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 24