Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 19:13-24 Bybel vir Almal (ABA)

13. Mikal het ’n beeld geneem en sy het dit op die bed gesit. Sy het ’n stuk bokvel om die beeld se kop gedraai en sy het die beeld toegemaak met klere.

14-15. Saul het manne gestuur om vir Dawid te vang, en Mikal het vir hulle gesê: “Hy is siek.”

16. Toe die manne by die bed kom, sien hulle dat daar ’n beeld lê met ’n stuk bokvel om die kop.

17. Saul het vir Mikal gesê: “Hoekom het jy my so bedrieg? Jy het my vyand laat gaan sodat hy kon wegkom.”Mikal het vir Saul gesê: “Hy het vir my gesê ek moet hom laat gaan, anders sal hy my doodmaak.”

18. Dawid het gevlug en weggekom. Hy het by Samuel in Rama gekom en hy het vir Samuel alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Hy en Samuel het toe in die profete-kamp gaan bly.

19. Saul het gehoor dat Dawid in die profete-kamp by Rama is,

20. en hy het manne gestuur om vir Dawid te vang. Maar toe die manne die groep profete sien, en hulle hoor hoe die profete praat en hulle sien Samuel is die leier, het die Gees van God in Saul se manne gekom, en hulle het ook soos profete begin praat.

21. Die mense het dit vir Saul gaan vertel, en hy het ander manne gestuur. Maar hulle het ook soos profete begin praat. Saul het die derde maal manne gestuur, en hulle het ook soos profete gepraat.

22. Toe gaan Saul self na Rama, en toe hy by die groot watergat kom wat by Seku is, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?”Iemand het vir hom gesê: “Hulle is hier by Rama in die profete-kamp.”

23. Saul het na die profete-kamp by Rama gegaan, en die Gees van God het ook in Saul gekom. Hy het ook soos ’n profeet geloop en praat totdat hy in die profete-kamp by Rama gekom het.

24. Hy het sy klere uitgetrek en hy het daar by Samuel soos ’n profeet gepraat. Hy het daardie hele dag en nag daar kaal gelê. Dit is hoekom die mense sê: “Is Saul ook by die profete?”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 19