Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 16:1-7 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Samuel gesê: “Jy moenie aanhou huil en treur oor Saul nie. Ek het besluit hy sal nie meer koning wees oor Israel nie. Jy moet jou horing vol olyf-olie maak en gaan. Ek stuur jou na Isai toe in die stad Betlehem. Ek het gesien een van sy seuns kan die koning wees wat Ek wil hê.”

2. Samuel het gesê: “Ek kan nie gaan nie. As Saul dit hoor, dan sal hy my doodmaak.”Die Here het gesê: “Jy moet ’n jong koei saam met jou neem en jy moet sê jy het gekom om vir die Here te offer.

3. En dan moet jy vir Isai uitnooi na die offer. Ek sal dan vir jou sê wat jy moet doen. Jy moet die persoon salf wat Ek vir jou sê.”

4. Samuel het gedoen wat die Here gesê het. Toe hy in Betlehem kom, het die leiers van die stad hom kom ontmoet. Hulle was bang en hulle het gevra: “Kom jy om iets te doen wat goed is vir ons?”

5. Hy het gesê: “Ja, ek het gekom om vir die Here te offer. Julle moet julle reinig en julle moet saam met my kom offer.”Samuel het ook vir Isai en sy seuns gereinig en hy het hulle uitgenooi na die offer.

6. Toe hulle kom, en Samuel sien vir Eliab, het hy gedink: Ja, dit is die gesalfde wat hier voor die Here staan.

7. Maar die Here het vir Samuel gesê: “Jy moenie na Eliab se gesig kyk en kyk hoe lank hy is nie. Eliab is nie die man wat Ek gekies het nie, want die Here kyk nie na dieselfde dinge as mense nie. Mense kyk hoe iemand lyk, maar die Here kyk wat in iemand se hart is.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 16