Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:13-25 Bybel vir Almal (ABA)

13. Samuel het na Saul toe gegaan, en Saul het vir hom gesê: “Ek bid dat die Here dit goed sal laat gaan met jou. Ek het gedoen wat die Here gesê het.”

14. Toe sê Samuel: “Maar hoekom hoor ek skape en bokke blêr en beeste bulk?”

15. Saul het gesê: “Die manne het die diere van die Amalekiete gevat. Hulle het die beste skape en bokke en beeste laat lewe om dit te offer vir jou God die Here. Hulle het al die ander diere doodgemaak.”

16. Samuel sê toe vir Saul: “Bly stil. Ek sal vir jou sê wat die Here gisteraand vir my gesê het.”Saul het gesê: “Goed, ek luister.”

17. Toe sê Samuel: “Jy het gesê jy is nie ’n belangrike man nie, maar jy is nou die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf en Hy het jou koning oor Israel gemaak.

18. Die Here het jou gestuur en Hy het gesê jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan doodmaak, jy moet teen hulle gaan oorlog maak totdat jy hulle almal doodgemaak het.

19. Hoekom het jy nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie? En hoekom het jy so vinnig hulle goed gaan vat en iets gaan doen waarvan die Here nie hou nie?”

20. Saul het vir Samuel gesê: “Maar ek hét gedoen wat die Here gesê het, ek hét gegaan toe Hy my gestuur het. Ek het vir Agag, die koning van die Amalekiete, hiernatoe gebring, maar ek het al die Amalekiete doodgemaak.

21. En die manne het van die skape en bokke en beeste gevat om hulle vir jou God die Here hier in Gilgal te offer. Dit is die beste van die diere wat gewy was en wat hulle moes doodmaak.”

22. Samuel het gesê:“Wat dink jy is vir die Heredie belangrikste:Dat jy brand-offers vir Hommoet bring,of dat jy doen wat Hy vir jou sê?Jy moet dit weet:Dit is beter om gehoorsaamte wees as om te offer,dit is beter om te luisterna Hom as om die vetvan ramme te offer.

23. Want iemand wat opstandig is,doen ook sondesoos waarsêers sonde doen.En iemand wat ongehoorsaam is,doen ook sonde soos mensewat afgodsbeeldjies het.”“Jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie, daarom het Hy besluit dat jy nie meer koning sal wees nie.”

24. Saul het vir Samuel gesê: “Ek het sonde gedoen, ek het nie gedoen wat die Here en jy vir my gesê het nie. Ek was bang vir die manne en ek het gedoen wat hulle gevra het.

25. Maar nou vra ek: Jy moet asseblief my sonde vergewe en saam met my teruggaan, sodat ek tot die Here kan bid.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15