Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 13:6-14 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die Israeliete het besef dat hulle probleme het. Daarom het hulle weggekruip in grotte en tussen doringbosse en rotse, en in plekke onder die grond en in gate.

7. Party Hebreërs het oor die Jordaan-rivier gegaan na die land Gad en die land Gilead. Saul was nog in Gilgal, en al die manne by hom was baie bang.

8. Samuel het gesê Saul moet sewe dae vir hom wag, en Saul het dit gedoen. Maar Samuel het nie na Gilgal gekom nie. Toe Saul se manne begin wegloop,

9. het hy gesê: “Bring vir my die brand-offer en die ete-offers.” Saul offer toe self die brand-offer.

10. En toe hy klaar die brand-offer ge-offer het, het Samuel daar aangekom. Saul het gegaan om hom te ontmoet en te groet.

11. Samuel het gevra: “Wat het jy gedoen?”Saul het gesê: “Jy het gesê ek moet sewe dae vir jou wag, maar jy het nie gekom nie. Ek het gesien die manne begin wegloop. Die Filistyne is bymekaar in Mikmas,

12. en ek het gedink hulle sal hier na Gilgal kom voordat ek vir die Here ’n offer gebring het en vir Hom gevra het om te help. Ek het toe self die brand-offer ge-offer.”

13. Samuel het vir Saul gesê: “Jy het ’n verkeerde ding gedoen, jy het nie gedoen wat jou God die Here gesê het nie. As jy gehoorsaam was, dan sou die Here jou lank laat regeer het oor die Israeliete.

14. Maar nou sal jy nie lank koning wees nie. Die Here het vir Hom ’n man gesoek van wie Hy hou. Die Here het gesê daardie man sal koning word oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here gesê het nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 13