Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 12:9-16 Bybel vir Almal (ABA)

9. Maar julle voorvaders het hulle God die Here vergeet, en toe het die Here vir Sisera gebring om oorlog te maak teen die Israeliete. Sisera was die hoof van die leër van Hasor. Die Here het ook die Filistyne en die koning van Moab gebring om oorlog te maak teen die Israeliete.

10. Die Israeliete het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Hulle het gesê: ‘Ons het sonde gedoen, want ons het weggegaan van die Here en ons het die Baäls en die Astartes gedien. Maar U moet ons nou red van ons vyande, dan sal ons vir U dien.’

11. Die Here het toe vir Jerub-Baäl gestuur en vir Bedan en Jefta en Samuel, en Hy het julle gered van julle vyande rondom julle, sodat julle veilig kon woon.

12. Maar toe julle sien koning Nagas van die Ammoniete wil oorlog maak teen julle, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar moet ’n koning wees om oor ons te regeer.’ Maar julle Koning is julle God die Here.

13. En nou, hier is die koning wat julle gekies en gevra het. En hier het die Here vir julle ’n koning gegee.

14. Dit sal goed gaan met julle as julle die Here respekteer en dien en doen wat Hy wil hê, as julle nie opstandig is teen wat Hy vir julle sê nie, en as julle altyd julle God die Here volg, julle en julle koning wat oor julle regeer.

15. Maar as julle nie doen wat die Here wil hê nie en as julle opstandig is teen wat Hy vir julle sê, dan sal Hy teen julle wees soos Hy teen julle voorvaders was.

16. Maar nou moet julle hier kom staan sodat julle self kan sien watter groot ding die Here sal doen.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 12