Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 10:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Samuel neem toe ’n klein kruikie olyf-olie en hy gooi dit uit oor Saul se kop. Hy soen toe vir Saul en sê vir hom: “Die Here salf jou om koning te wees oor die volk wat aan Hom behoort.

2. Wanneer jy vandag hier weggaan van my, dan sal jy twee mans kry by die graf van Ragel by die stad Selsag in die land Benjamin. Hulle sal vir jou sê die mense het die donkies gekry wat jy gaan soek het, en jou pa is nou nie meer bekommerd oor die donkies nie, hy is bekommerd oor julle. Jou pa vra: ‘Wat moet ek doen om my seun terug te kry?’

3. En wanneer jy van daar af verder gaan, dan sal jy by die stad Elon-Tabor drie mans kry wat na die tempel in Bet-El gaan. Die een man dra drie bokkies, die een dra drie brode en die een dra ’n velsak wyn.

4. Hulle sal vra hoe dit met jou gaan en hulle sal twee brode vir jou gee, en jy sal dit neem.

5. Daarna sal jy kom by die stad Gibea-van-God. Daar is ’n groep Filistynse soldate wat wagstaan. Wanneer jy daar by die stad kom, dan sal jy ’n groep profete kry wat van die offer-plek kom. Hulle sal musiek maak met harpe, tamboeryne, fluite en liere en hulle sal soos profete praat.

6. Dan sal die Gees van die Here in jou kom, en jy sal ook soos ’n profeet praat, jy sal verander en jy sal soos ’n ander man word.

7. Wanneer al die dinge gebeur het wat ek vir jou gesê het, dan moet jy doen wat jy moet doen, want jy sal weet dat die Here by jou is.

8. Jy moet voor my na Gilgal gaan, en ek sal na jou toe kom om brand-offers en ete-offers te bring. Jy moet sewe dae lank daar vir my wag, totdat ek vir jou kom sê wat jy moet doen.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 10