Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 1:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Daar was ’n man van die stad Ramatajim in die Efraim-berge. Hy was van die nageslag van Suf, en sy naam was Elkana. Elkana was die seun van Jerogam, Jerogam was die seun van Elihu, Elihu was die seun van Togu, en Togu was die seun van Suf, van die land Efrat.

2. Elkana het twee vroue gehad. Die naam van die een vrou was Hanna en die naam van die ander vrou was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna het nie kinders gehad nie.

3. Elkana het elke jaar van sy stad Ramatajim na die stad Silo gegaan om daar te bid en te offer vir die Here wat oor alles regeer. Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, was in Silo priesters van die Here.

4. Wanneer Elkana ’n offer vir die Here gebring het, dan het hy vir Peninna en al haar seuns en dogters elkeen ’n stuk vleis gegee.

5. Hy was lief vir Hanna, maar hy kon vir haar net een stuk vleis gee, want die Here het nie vir haar kinders laat kry nie.

6. Dan het die ander vrou vir Hanna baie gespot en verneder omdat die Here nie vir Hanna kinders laat kry het nie.

7. Elkana het dit elke jaar gedoen. Wanneer Hanna na die tempel gegaan het, dan het Peninna haar gespot. Hanna het dan gehuil en sy het nie geëet nie.

8. Dan het haar man Elkana vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy en hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Jy weet jy het vir my, en dit is beter as om tien seuns te hê.”

9. Nadat hulle in Silo saam geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Die priester Eli het by die deur van die tempel op ’n stoel gesit.

10. Hanna was baie hartseer. Sy het tot die Here gebid en baie gehuil.

11. Sy het vir die Here belowe en gesê: “Here wat oor alles regeer, ek is u dienaar. U moet asseblief na my kyk en sien hoe hartseer ek is. U moet dink aan my, U moenie vir my vergeet nie. As U vir my ’n seun gee, dan sal ek hom bring om sy hele lewe lank aan U te behoort, en niemand sal sy hare afskeer nie.”

12. Hanna het lank aangehou bid tot die Here, en Eli het gesien sy praat.

13. Maar Hanna het saggies gepraat. Net haar lippe het beweeg. Eli kon nie hoor wat sy sê nie en hy het gedink sy is dronk.

14. Eli sê toe vir Hanna: “Hoe lank wil jy dronk bly? Gaan nou en kom terug wanneer jy nie meer dronk is nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 1