Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 11:11-23 Bybel vir Almal (ABA)

11. Hier is die lys van die name van die spesiale manne van Dawid:Jasobam van die stad Gakmon was die hoof van die 30 spesiale manne. Hy het 300 manne op een plek doodgemaak met sy spies.

12. Ná Jasobam was daar Eleasar seun van Dodo van die stad Agoag. Hy was een van drie spesiale manne.

13. Dit is hy wat by Dawid in Pas-Dammim was toe die Filistyne daar bymekaargekom het om oorlog te maak. Daar was ’n stuk grond vol gars. Die manne van Dawid het gevlug vir die Filistyne,

14. maar die spesiale manne het op die stuk grond bly staan en hulle het gekeer, die Filistyne kon nie die grond vat nie. Die spesiale manne het die Filistyne oorwin. Die Here het hulle gered en Hy het hulle laat wen teen al die Filistyne.

15. Drie van die 30 leiers het afgegaan na die rots by die Adullam-grot. Dawid was toe daar. Die tente van die Filistyne was in Spook-laagte.

16. Dawid het daardie tyd weggekruip in ’n veilige plek in die berge, en die Filistyne het manne in die stad Betlehem laat bly om die stad op te pas.

17. Dawid het dors geword en gesê: “Ek wens iemand bring vir my water uit die watergat in die poort van Betlehem.”

18. Die drie manne het tussen die tente van die Filistyne deurgeloop en hulle het water geskep uit die watergat in die poort van Betlehem. Hulle het dit vir Dawid gebring, maar Dawid wou dit nie drink nie. Hy het dit vir die Here gegee, dit was ’n drank-offer.

19. Dawid het gesê: “My God moet keer as ek hierdie water wil drink. As hierdie manne gesterf het toe hulle die water gaan haal het, dan was dit my skuld.”Dawid wou nie die water drink nie, maar dit is wat die drie manne gedoen het.

20. Abisai broer van Joab was die leier van hierdie drie manne. Hy het 300 manne doodgemaak met sy spies. Maar hy was nie een van die eerste drie spesiale manne nie.

21. Hy was die belangrikste van die tweede drie spesiale manne en hy was hulle leier, maar hy het nie een van die eerste drie manne geword nie.

22. Benaja seun van Jojada van die stad Kabseël was ’n dapper man wat groot dinge gedoen het. Dit is hý wat daardie twee baie sterk manne van Moab oorwin het. En eendag toe dit gesneeu het, het hy afgegaan in ’n gat en hy het ’n leeu doodgemaak.

23. Dit is ook hý wat die Egiptenaar oorwin het. Die Egiptenaar was ’n groot man, hy was vyf el lank, en hy het ’n spies in sy hand gehad. Die spies was so groot soos die balk van ’n weefstoel. Maar Benaja het net ’n stok saamgeneem toe hy afgegaan het. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand gevat en hy het die Egiptenaar met sy eie spies doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 11