Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6:8-20 Bybel vir Almal (ABA)

8. Die deur na die onderste verdieping was langs die kant van die tempel, by die suidekant, en daar was trappe na die middelste en boonste verdiepings.

9. Salomo het die tempel klaar gebou en hy het ’n dak opgesit. Die dak was van rye dik sederhout pale.

10. Elke verdieping van die gebou wat hy teen die tempel gebou het, was vyf el hoog, en die vloere en die dak was van sederhout pale wat op die muur teen die tempel gelê het.

11. Die Here het met Salomo gepraat en gesê:

12. “Jy bou nou die tempel. As jy lewe soos Ek in my wette sê en as jy doen wat Ek wil hê, dan sal Ek met jou doen wat Ek vir jou pa Dawid belowe het.

13. Ek sal by die Israeliete woon en Ek sal nie weggaan van hulle nie.”

14. Salomo het die tempel gebou en hy het dit klaargemaak.

15. Hy het die mure binne-in die tempel met sederhout planke toegemaak. Die planke was van die vloer tot teen die dak, en hy het die vloer van sipreshout planke gemaak.

16. Agter in die tempel het hy ’n muur van sederhout planke gebou. Die muur was van die vloer tot teen die dak, en agter die muur was ’n kamer wat 20 el lank was. Dit was die binneste kamer, die hoog-gewyde kamer.

17. Die voorste kamer van die tempel was 40 el lank.

18. Salomo het bitterappels en blomme laat uitsny op die mure van die tempel se binnekant. Alles was van sederhout, ’n mens kon nie die klip van die mure sien nie.

19. Hy het die binneste kamer in die tempel gereedgemaak om die verbondskis van die Here daar te sit.

20. Die binneste kamer was 20 el lank en 20 el breed en 20 el hoog, en Salomo het die mure laat toemaak met dun goudplate. Hy het die altaar voor die binneste kamer van sederhout laat maak.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 6