Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6:6-16 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die onderste verdieping was vyf el breed, die middelste verdieping was ses el breed en die boonste verdieping was sewe el breed. Hy het dit so gebou omdat hy hierdie gebou se muur téén die muur van die tempel gebou het, hy het dit nie ín die tempelmuur vasgebou nie.

7. Hulle het die tempel gebou van klip wat hulle klaar gekap het. ’n Mens het nie hamers en beitels en ander yster-gereedskap gehoor raas toe hulle die tempel gebou het nie.

8. Die deur na die onderste verdieping was langs die kant van die tempel, by die suidekant, en daar was trappe na die middelste en boonste verdiepings.

9. Salomo het die tempel klaar gebou en hy het ’n dak opgesit. Die dak was van rye dik sederhout pale.

10. Elke verdieping van die gebou wat hy teen die tempel gebou het, was vyf el hoog, en die vloere en die dak was van sederhout pale wat op die muur teen die tempel gelê het.

11. Die Here het met Salomo gepraat en gesê:

12. “Jy bou nou die tempel. As jy lewe soos Ek in my wette sê en as jy doen wat Ek wil hê, dan sal Ek met jou doen wat Ek vir jou pa Dawid belowe het.

13. Ek sal by die Israeliete woon en Ek sal nie weggaan van hulle nie.”

14. Salomo het die tempel gebou en hy het dit klaargemaak.

15. Hy het die mure binne-in die tempel met sederhout planke toegemaak. Die planke was van die vloer tot teen die dak, en hy het die vloer van sipreshout planke gemaak.

16. Agter in die tempel het hy ’n muur van sederhout planke gebou. Die muur was van die vloer tot teen die dak, en agter die muur was ’n kamer wat 20 el lank was. Dit was die binneste kamer, die hoog-gewyde kamer.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 6