Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 5:9-18 Bybel vir Almal (ABA)

9. My werkers sal dit van die Libanon-berg afbring na die see. Ek sal vlotte maak van die hout en ek sal dit vir jou bring, jy moet sê na watter plek. Ek sal die hout van die vlotte daar losmaak, en jy kan die hout dan verder neem. En jy moet dan vir die mense in my paleis kos gee, soveel kos soos ek wil hê.”

10. Hiram het vir Salomo soveel sederhout en sipreshout gegee soos hy wou hê,

11. en Salomo het elke jaar vir Hiram 20 000 kor koring en 20 kor skoon olyf-olie gegee vir die mense in sy paleis.

12. Die Here het vir Salomo wysheid gegee soos Hy belowe het. Daar was vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle het ’n ooreenkoms gemaak.

13. Koning Salomo het 30 000 werkers uit die hele land Israel laat kom

14. en hy het elke maand 10 000 van hulle in groepe na die Libanon-berg gestuur. Hulle was ’n maand op die Libanon-berg en dan weer twee maande by die huis. Adoniram was die hoof van die werkers.

15. Salomo het ook 70 000 mans gehad wat die hout moes dra en 80 000 mans wat die klippe in die berge moes kap.

16. Daar was ook 3 300 hoofde wat moes kyk dat die werkers hulle werk doen.

17. Hulle het groot klippe uitgehaal soos die koning gesê het. Dit was goeie klippe en hulle het dit gekap sodat hulle die fondamente van die tempel daarmee kon bou.

18. Die bouers van Salomo en die bouers van Hiram en die mense van die stad Gebal het die klippe gekap en hulle het die hout en die klippe gereedgemaak om die tempel te bou.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 5