Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 4:24-34 Bybel vir Almal (ABA)

24. Salomo het regeer oor al die lande wes van die Eufraat-rivier, dit was van die stad Tifsag tot by die stad Gasa. Hy het regeer oor al die konings wes van die Eufraat-rivier. Daar was vrede tussen hom en al die konings rondom hom.

25. Die mense van Juda en Israel, van die stad Dan in die noorde tot by die stad Berseba in die suide, het veilig gewoon terwyl Salomo gelewe het. Elkeen kon rustig onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom sit.

26. Salomo het 40 000 perde in sy stalle gehad vir sy oorlogkarre en hy het 12 000 ryperde gehad.

27. Die distrikshoofde het elkeen een maand lank kos gebring vir koning Salomo en vir almal wat by sy tafel geëet het. Daar was genoeg kos vir almal.

28. Die distrikshoofde het ook vir die perde genoeg gars en strooi gebring na die plekke waar die perde was.

29. God het vir Salomo baie wysheid en verstand gegee, hy het geweet van baie dinge, so baie soos die sand op die strand by die see.

30. Hy het meer wysheid gehad as die Oosmense en die mense van Egipte,

31. meer wysheid as al die ander mense, meer wysheid as Etan die Esragiet en meer wysheid as Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Almal in die lande rondom Israel het geweet van Salomo.

32. Hy het 3 000 spreuke en 1 005 liedere geskryf.

33. In die spreuke en liedere het hy gepraat van bome en plante, van die sederbome op die Libanon-berg tot by die hisop-bossies wat uit die mure gegroei het. Hy het ook gepraat van diere en voëls en die klein diertjies wat op die aarde kruip, en oor die visse.

34. Mense van al die volke het kom luister na die wysheid van Salomo. Die konings van die aarde wat gehoor het van Salomo se wysheid, het die mense gestuur om na hom te gaan luister.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 4