Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:13-25 Bybel vir Almal (ABA)

13. Hulle het twee manne gebring wat kan jok en hulle het die manne voor Nabot laat sit. Die twee manne het toe gepraat teen Nabot en hulle het gesê Nabot het God en die koning vervloek. Toe het hulle vir Nabot uit die stad geneem en hulle het hom doodgegooi met klippe.

14. Hulle het vir Isebel laat weet dat hulle vir Nabot doodgegooi het met klippe.

15. Toe Isebel dit hoor, het sy vir Agab gesê: “Nabot lewe nie meer nie, hy is dood. Nou kan jy Nabot se wingerd gaan vat wat hy nie aan jou wou verkoop nie.”

16. Toe Agab hoor dat Nabot dood is, het hy gereedgemaak om na die wingerd van Nabot van Jisreël te gaan om dit vir hom te vat.

17. Elia van Tisbe het gehoor die Here sê vir hom:

18. “Agab koning van Israel in Samaria is by die wingerd van Nabot. Hy het daarnatoe gegaan om dit vir hom te vat. Jy moet gereedmaak en jy moet hom gaan ontmoet.

19. Jy moet vir hom sê: Die Here vra: Agab, het jy iemand vermoor en het jy nou ook iemand se goed gevat? Op dieselfde plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, daar sal die honde jou bloed ook oplek.”

20. Toe Elia dit vir Agab sê, het Agab gesê: “Het jy my gekry, my vyand?”Elia het geantwoord: “Ja, ek het jou gekry, want jy het dit geniet om dinge te doen waarvan die Here nie hou nie.

21. Daarom sê die Here: ‘Ek sal dit sleg laat gaan met jou, Ek sal jou nageslag wegvee, Ek sal elke man en seun in die familie van Agab laat doodmaak, elkeen in die land Israel, getroud of ongetroud.

22. Ek sal met jou koningshuis doen wat Ek gedoen het met die koningshuis van Jerobeam seun van Nebat en met die koningshuis van Baesa seun van Agija. Ek doen dit omdat jy My hartseer gemaak het en omdat jy vir Israel sonde laat doen het.’

23. Die Here het ook oor Isebel gepraat. Hy het gesê: ‘Die honde sal vir Isebel opvreet by die muur van Jisreël.

24. Wanneer iemand van Agab in die stad sterf, dan sal die honde hom opvreet, en wanneer iemand van Agab in die veld sterf, dan sal die voëls hom opvreet.’ ”

25. Daar was nie nog iemand wat so sleg was soos Agab nie. Hy het dit geniet om dinge te doen waarvan die Here nie hou nie. Sy vrou Isebel het hom die dinge laat doen.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21