Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Salomo het op die troon van sy pa Dawid gaan sit. Almal het geweet dat hy nou die koning is.

13. Adonia seun van Gaggit het na Salomo se ma Batseba toe gekom. Batseba het vir hom gevra: “Kom jy soos ’n vriend?”Adonia het gesê: “Ja, ek kom soos ’n vriend.

14. Ek wil met jou praat oor iets.”Batseba sê toe: “Jy mag praat.”

15. Toe sê Adonia: “Jy weet dat ek koning sou geword het en dat al die Israeliete dit aanvaar het. Maar die Here het iets anders laat gebeur, my broer het koning geword.

16. En nou is daar een ding wat ek vir jou wil vra, en jy moenie vir my nee sê nie.”Batseba het gesê: “Jy mag vra.”

17. Toe sê Adonia: “Jy moet asseblief met koning Salomo praat, want hy sal nie vir jou nee sê nie. Jy moet vra dat hy Abisag van Sunem vir my moet gee sodat ek met haar kan trou.”

18. Batseba het gesê: “Goed, ek sal met die koning gaan praat oor jou.”

19. Sy het na die koning toe gegaan om met hom te praat oor Adonia. Die koning het opgestaan en hy het haar kom ontmoet. Hy het voor haar gebuig en toe het hy op sy troon gaan sit. Hy het gesê hulle moet vir die ma van die koning ’n stoel bring, en sy het regs langs hom gaan sit.

20. Sy sê toe: “Ek wil iets vir jou vra, en jy moenie vir my nee sê nie.”Die koning het vir haar gesê: “Ma, jy mag vir my vra, ek sal nie vir jou nee sê nie.”

21. Sy sê toe: “Jy moet Abisag van Sunem vir jou broer Adonia gee sodat hy met haar kan trou.”

22. Koning Salomo het geantwoord en vir sy ma gesê: “Hoekom vra jy dat ek Abisag van Sunem vir Adonia moet gee? Wil jy ook vir my vra dat Adonia koning moet word in my plek? Hy is my broer wat ouer is as ek, en die priester Abjatar en Joab seun van Seruja wil ook hê dat Adonia koning moet word.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2