Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:4-15 Bybel vir Almal (ABA)

4. Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja 100 profete weggesteek in twee grotte, 50 profete in elke grot, en hy het vir hulle kos en water gegee.

5. Agab het vir Obadja gesê: “Jy moet gaan na al die fonteine en al die valleie, miskien kry jy gras sodat die perde en die muile kan aanhou lewe. As julle dit nie doen nie, dan sal ons party van die diere moet doodmaak.”

6. Agab en Obadja het die land tussen hulle verdeel. Agab het alleen op een pad gegaan en Obadja het alleen op ’n ander pad gegaan.

7. Obadja kry toe vir Elia op die pad, en hy het gesien wie dit is. Hy het gebuig en met sy gesig teen die grond gaan lê en gevra: “Meneer Elia, is dit jy?”

8. Elia het vir hom gesê: “Ja, dit is ek. Gaan sê vir jou meneer ek is hier.”

9. Toe sê Obadja: “Watter sonde het ek gedoen? Hoekom wil jy hê Agab moet my doodmaak?

10. So seker soos jou God die Here lewe, my meneer het mense na elke volk en land gestuur om jou te soek. Wanneer die mense gesê het jy is nie daar nie, dan moes hulle belowe en sê die Here is die getuie dat hulle jou nie kan kry nie.

11. En nou sê jy: ‘Gaan sê vir jou meneer dat Elia hier is.’

12. As ek nou weggaan van jou, en die Gees van die Here neem jou weg na ’n ander plek en ek weet nie waar jy is nie, wat sal dan met my gebeur? As ek vir Agab gaan vertel jy is hier, en hy kry jou nie hier nie, dan sal hy my doodmaak. Jy moet weet ek dien die Here vandat ek jonk was.

13. Het jy gehoor wat ek gedoen het? Toe Isebel die profete van die Here begin doodmaak het, het ek 50 profete in een grot en 50 profete in ’n ander grot weggesteek en ek het vir hulle kos en water gegee.

14. En nou sê jy ek moet vir my meneer gaan sê dat Elia hier is. Wil jy hê hy moet my doodmaak?”

15. Elia het vir Obadja gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat oor alles regeer, die God vir wie ek werk, jy moenie bekommerd wees nie, Agab sal my vandag sien.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18