Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 17:8-16 Bybel vir Almal (ABA)

8. Toe het die Here vir Elia gesê:

9. “Jy moet gereedmaak en na die stad Sarfat gaan in die land van die Sidoniërs. Jy moet daar gaan bly. Ek het vir ’n weduwee daar gesê sy moet vir jou kos gee.”

10. Elia het gereedgemaak en na Sarfat gegaan. Toe hy by die poort van die stad kom, was ’n weduwee daar besig om hout bymekaar te maak. Hy het haar geroep en gevra: “Gee asseblief vir my ’n bietjie water in ’n beker sodat ek dit kan drink.”

11. Toe sy gaan om die water te gaan haal, skree hy vir haar: “Bring asseblief ook vir my ’n stukkie brood saam.”

12. Sy het gesê: “So seker soos jou God die Here lewe, ek het niks wat gaar is nie. Ek het nog net ’n handvol meel in ’n kruik en ’n bietjie olyf-olie in ’n bottel. Wanneer ek klaar ’n paar stukkies hout bymekaargemaak het, dan gaan ek vir my en my seun iets maak om te eet. Daarna sal ons sterf.”

13. Elia het vir haar gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie. Gaan doen wat jy wil doen, maar maak eers vir my ’n klein broodjie gaar, daarna kan jy vir jou en jou seun brood gaarmaak.

14. Die Here, die God van Israel, het gesê: Die kruik waarin die meel is, sal nie leeg word nie, en daar sal genoeg olyf-olie in die oliebottel wees tot die dag wanneer die Here dit weer laat reën in die land.”

15. Die weduwee het gegaan en gedoen wat Elia gesê het en sy het elke dag kos gehad om te eet, sy en Elia en haar huisgesin.

16. Die meelkruik het nie leeg geword nie en daar was altyd olyf-olie in die oliebottel, soos die Here gesê het Elia moet sê.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 17