Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 15:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Abia het koning van Juda geword in die agtiende jaar nadat Jerobeam seun van Nebat koning geword het.

2. Abia was drie jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Maäka dogter van Abisalom.

3. Abia het dieselfde sondes gedoen wat sy pa vóór hom gedoen het. Hy het nie die Here met sy hele hart gedien soos sy voorvader Dawid nie.

4. Maar omdat die Here lief was vir Dawid, het die Here iemand uit Dawid se nageslag koning laat word in Jerusalem, sodat die lamp van Dawid se nageslag daar kon aanhou brand. Die mense van Jerusalem was veilig.

5. Die Here het iemand uit Dawid se nageslag gekies omdat Dawid dinge gedoen het waarvan die Here hou en omdat hy sy hele lewe lank gehoorsaam was aan alles wat die Here gesê het. Hy het net een maal verkeerd gedoen toe hy Urija die Hetiet se vrou gevat het en vir Urija laat doodmaak het.

6. Daar was altyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam terwyl Rehabeam gelewe het.

7. Al die ander dinge wat Abia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam.

8. Abia het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het koning geword ná hom.

9. Asa het koning van Juda geword in die twintigste jaar nadat Jerobeam koning van Israel geword het.

10. Asa was 41 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ouma was Maäka, dogter van Abisalom.

11. Asa het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy voorvader Dawid ook gedoen het.

12. Asa het die tempel-prostitute uit die land laat wegjaag en hy het al die afgode laat wegvat wat sy voorvaders gemaak het.

13. Hy het ook gesê sy ouma Maäka sal nie meer belangrik wees omdat sy ’n koning se ma is nie, want sy het ’n beeld laat maak van die godin Asjera. Asa het die beeld laat afkap en hy het dit laat verbrand in die Kedron-vallei.

14. Die offer-plekke was nog daar, maar Asa het die Here met sy hele hart gedien terwyl hy gelewe het.

15. Hy het die wydingspresente van sy pa, en ook sy eie wydingspresente in die tempel gesit. Dit was goud, silwer en gereedskap.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 15