Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. In daardie tyd het Jerobeam se seun Abija siek geword.

2. Jerobeam het vir sy vrou gesê: “Jy moet jou gesig toemaak sodat mense nie kan weet jy is my vrou nie en jy moet na die stad Silo gaan. Dit is waar die profeet Agija woon, die profeet wat gesê het dat ek die koning sal word van hierdie volk.

3. Jy moet tien brode neem en koekies en ’n kruik heuning en jy moet na hom toe gaan. Hy sal vir jou sê wat met die kind sal gebeur.”

4. Jerobeam se vrou het gedoen wat hy gesê het. Sy het gereedgemaak en na Silo gegaan en by die huis van Agija gekom. Agija was al baie oud, hy kon nie meer sien nie.

5. Die Here het vir hom gesê: “Jerobeam se vrou het gekom om vir jou te vra wat sal gebeur met haar seun, want hy is siek. Jy moet vir haar sê wat Ek vir jou sê.”Die vrou se gesig was toe,

6. maar toe Agija hoor sy kom by die deur in, sê hy: “Kom in, vrou van Jerobeam. Hoekom is jou gesig toe? Ek het ’n slegte boodskap vir jou.

7. Jy moet vir Jerobeam gaan sê: Die Here, die God van Israel, sê: Ek het vir jóú gekies van al die mense en Ek het jóú laat regeer oor my volk Israel.

8. Ek het die land weggevat van die koningshuis van Dawid en Ek het dit vir jou gegee. Maar jy is nie soos my dienaar Dawid nie. Hy het My gedien met sy hele hart en hy het dinge gedoen waarvan Ek hou.

9. Maar jy het slegter dinge gedoen as almal wat vóór jou koning was. Jy het vir jou ander gode en beelde gemaak. So het jy vir My hartseer gemaak en weggegaan van My.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14