Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Rehabeam het na die stad Sigem gegaan, want al die Israeliete het daarnatoe gekom om hom koning te maak.

2. Jerobeam seun van Nebat het dit gehoor. Hy was nog in die land Egipte, want hy het daarnatoe gevlug omdat hy bang was vir koning Salomo. Hy het daar gaan woon,

3. maar die mense van Israel het hom laat roep, en hy het gekom. Jerobeam en die hele volksvergadering van Israel het met Rehabeam kom praat.

4. Hulle het gesê: “Jou pa het ons baie hard laat werk. Jy moet ons nie so hard laat werk nie, dan sal ons vir jou werk.”

5. Rehabeam het vir hulle gesê hulle moet eers weggaan en hulle moet oor drie dae terugkom. Hulle het toe weggegaan.

6. Daar was amptenare wat vir Salomo gewerk het toe hy gelewe het. Koning Rehabeam het vir hulle gevra wat hy moet doen. Hy het vir hulle gevra: “Wat sê julle? Wat moet ek vir hierdie mense antwoord?”

7. Hulle het vir hom gesê: “As jy vandag hierdie mense wil dien en jy doen wat hulle wil hê en jy gee vir hulle ’n goeie antwoord, dan sal hulle jou altyd dien.”

8. Maar Rehabeam wou nie luister na wat hulle vir hom gesê het nie. Hy het toe vir die jongmanne gaan vra wat saam met hom grootgeword het en wat sy amptenare was.

9. Hy het vir hulle gevra: “Wat sê julle? Wat moet ek vir hierdie mense antwoord? Hulle het vir my gevra dat ek hulle nie so hard moet laat werk soos hulle vir my pa moes werk nie.”

10. Die jongmanne wat saam met Rehabeam grootgeword het, het vir hom gesê: “Hierdie mense het vir jou gesê dat jou pa hulle baie hard laat werk het, en jy moenie hulle so hard laat werk nie. Jy moet vir hulle sê: ‘My pinkie is dikker as my pa se lyf.

11. Daarom, my pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. My pa het julle regeer met gewone swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.’ ”

12. Rehabeam het voorheen vir die mense gesê hulle moet ná drie dae terugkom. Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag teruggekom na Rehabeam toe,

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12